Foto deur Micky Hoyle

SARIE KOS AUG/SEP 2012

Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS AUG/SEP 2012

Gebak

Tarte tatin met geroosterde geel soetrissie en bokmelkkaas

Genoeg vir 6

Baktyd: 35 – 40 minute

  • 6 geel soetrissies
  • 40 ml olyfolie
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 300 g bokmelkkaas
  • 1 x 400 g-vel winkel-blaardeeg, ontdooi

Verhit roosterelement van oond. Pak soetrissies op ’n bakplaat en smeer olyfolie oor. Plaas onder roosterelement en oondrooster tot swart gebrande blasies bo-op die soetrissies vorm. Draai rissies met ’n tang om tot almal reg rondom gerooster is. Haal uit oond en plaas in bak. Maak die bak met kleefplastiek toe en laat staan. Dit klink baie vreemd, maar die soetrissies gaan begin sweet en dít maak dit vir jou makliker om die vel af te trek. Sodra dit koud genoeg is, trek al die velle af en verwyder die pitte. Plaas oondrak in middel van oond en verhit tot 200 °C. Rangskik soetrissies in ’n oondvaste 20 cm-pan met handvatsel. Geur met sout en peper. Sny bokmelkkaas in skywe en pak bo-op soetrissie. Sny deeg in sirkel wat effe groter is as pan en plaas bo-op. Maak ’n snytjie in die middel van die deeg en bak vir 35 – 40 minute. Die deeg moet opgepof en baie bros wees. Plaas jou opdienbord bo-op pan en hou kante stewig was – onthou die oondhandskoene. Draai versigtig om en lig pan op. Sit warm voor saam met groenslaai.

Notas

  • Gaatjies word in die deeg gemaak sodat die stoom kan ontsnap en die deeg nie pap en half-rou is nie.
  • Wanneer jy jou tarte tatin omkeer en die deeg is nog te rou, plaas dit weer op die bakplaat, maar met die deeg na onder. Sit ’n stuk bakpapier of tinfoelie boop die soetrissies en plaas terug in oond tot deeg gaar en bros is.