Foto's deur Micky Hoyle

Gebak

Tarte Tatin (onderstebo appeltert)

Deeg
• 140 g botter (ongesout en goeie gehalte)
• 250 g koekmeel
• 15 g strooisuiker
• 6 g sout
• 1 eier
• 20 – 30 g water

Sny botter in klein blokkies. Meng meel en botter in ’n mengbak. Vryf botter en meel tussen jou hande tot fyn en krummelrig. Maak ’n dammetjie in die middel en voeg suiker, eier, sout en water by. Meng tot jy ’n ferm deeg het. Plaas deeg in bakkie en maak toe met afdroogdoek. Plaas in yskas vir 20 minute.

Vulsel
• 50 g botter teen kamertemperatuur
• 50 g suiker
• 1,5 kg appels, geskil en in dun skywe gesny
• 50 g gesmelte botter
• sap van 1 lemoen, opsioneel
• knippie kaneel, opsioneel

Verhit oond tot 180 °C. Smeer ’n oondvaste pan goed met botter en strooi 25 g van die suiker oor gesmeerde binnekant van pan. Plaas appelskywe in pan. Die pan moet behoorlik vol wees. Gooi gesmelte botter bo-oor saam met res van suiker. Plaas op ’n plaat teen ’n hoë temperatuur vir ongeveer 20 minute. Ná 10 minute kan jy die kaneel
en lemoensap byvoeg. Rol die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak in ’n sirkel wat groter is as die deursnee van die pan. Plaas bo-op pan. Maak seker dat jy die deegrande oor die pan toevou – “sodat die appels nie ontsnap nie”, staan daar in ons Franse resep! Maak met foelie ’n klein tregter wat jy in die middel van die pastei indruk sodat die stoom tydens die bakproses kan ontsnap. Plaas in oond en bak vir 30 minute. Laat ietwat afkoel, breek die oorhang-deegrande af en keer die tert op ’n bord uit. Sit voor saam met styfgeklopte room.