Gebak

Tian

(4 – 6 porsies)

  • 6 e olyfolie
  • 2 uie, fyngekap
  • 4 knoffelhuisies, fyngekap
  • 1 eiervrug, in skywe gesny
  • 2 rooi soetrissies, ontpit en in repe gesny
  • 2 groot murgpampoene (courgettes), in skywe gesny
  • 3 groot tamaties, in skywe gesny
  • takkies vars tiemie en roosmaryn
  • 3 e vars witbroodkrummels
  • 2 e gerasperde parmesaankaas
  • sout en peper

Verhit 4 eetlepels olyfolie in ‘n groot pan en braai uie, knoffel, eiervrug en soetrissies tot goudbruin. Verwyder met ‘n gaatjieslepel en sprei die mengsel uit op die bodem van ‘n vlak oondvaste skottel. Braai murgpampoenskywe vir sowat 1minuut aan elke kant in dieselfde olie, net genoeg om dit sag te kry. Rangskik ‘n ry tamatieskywe bo-op die groentemengsel in die oondskottel. Elke tamatieskyf moet die vorige een effens oorvleuel. Rangskik ‘n ry murgpampoenskywe op dieselfde manier langsaan die tamatieskywe, dan weer ‘n ry tamaties en ‘n ry murgpampoen, tot die mengsel heeltemal bedek is. Maal sout en peper oor en plaas takkies tiemie en roosmaryn bo-op. Bak in ‘n voorverhitte oond teen 190 °C vir 25 minute tot goudbruin. Haal skottel uit die oond. Strooi broodkrummels en kaas oor. Bedruip met ‘n dun straaltjie olyfolie as die boonste groente ‘n bietjie droog lyk. Bak vir nog 10 minute tot die laag krummels bros en goudbruin word. Eet dit dadelik, ‘n uur later of selfs die volgende dag as piekniekkos. Dis een van daardie wonderbaarlike disse wat lekker bly – vuurwarm, louerig of koud.