sarie124
Gebak

Éclairs

Soos jy van Franse sjefs kan verwag, was sjokolade-en-vanielje-éclairs een van die laaste nageregte. Die Franse se éclairs is altyd lank en smal. Ek hou van ’n groot ronde vorm wat jy sommer met ’n eetlepel op die bakplaat skep. Makliker as om nog ’n spuitsak vuil te maak om tipiese lang éclairs te maak.

• 250 ml water
• 100 g (110 ml) botter, in blokkies gesny
• 130 g (230 ml) koekmeel
• 1 ml sout
• 4 groot eiers
• 500 ml room
• 15 g (30 ml) versiersuiker, gesif
• 200 g 70%-donkersjokolade

Plaas oondrak in middel van oond. Verhit oond tot 200 °C. Plaas water en botter in ’n kastrol en bring tot kookpunt. Wanneer mengsel begin kook, voeg meel en sout gelyktydig by en roer met ’n houtlepel tot ’n pasta vorm. Die mengsel moenie meer aan die bodem en kante van die kastrol vassit nie. Haal kastrol van hitte af en laat sowat 5 minute afkoel.

Voeg eiers een vir een by en klop ná elke byvoeging goed met houtlepel. Voer ’n bakplaat met bakpapier uit. Skep eetlepels vol van mengsel op bakpapier. Plaas in oond en bak 25 minute. Prik éclairs onder met ’n skerp mes of stokkie om stoom te laat ontsnap en om die binnekant te laat uitdroog.

Plaas terug in oond en bak nog 10 – 15 minute. Haal uit en laat afkoel. Klits room styf en voeg versiersuiker by. Sny elke éclair in die middel oop met ’n skerp mes. Skep room in éclairs. Smelt sjokolade in ’n bak oor kookwater. Smeer sjokolade oor éclairs, laat hard word en sit voor.