Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS APRIL/MEI 2013

Gebak

Toevou-koekie met pekanneutvulsel

Ek hou so baie van pekanneuttert dat ek dit in ʼn koekie omskep het.
(sowat 16 koekies)

    • 155 g (170 ml) botter, in blokkies gesny
    • 280 g (500 ml) koekmeel
    • 35 g (60 ml) versiersuiker
    • 2 ml vanieljegeursel
    • 45 ml koue water
    • versiersuiker om oor te sif

sit botter, meel en suiker in ’n voedselverwerker se bak. Meng goed. Voeg geursel en water by en meng tot deeg vorm. Haal uit en maak toe met kleefplastiek. Laat rus 30 – 45 minute in yskas. Verhit oond tot 180 °C. Rol deeg uit op meelbestrooide oppervlak – so 5 mm dik. Gebruik ’n koekie-uitdrukker met ’n deursnee van sowat 8,5 cm. Druk sirkels uit. Skep pekanneutvulsel (resep volg) op die een kant van ’n deegsirkel. Vou toe dat dit soos ’n halfmaan lyk. Plaas op uitgevoerde bakplaat en plaas in oond. Bak 10 – 15 minute. Haal uit en laat koud word. sif versiersuiker oor.

Pekanneutvulsel

      • 110 g (90 ml) bruinsuiker
      • 90 ml goue stroop
      • 30 g (30 ml) botter
      • 1 eier, geklits
      • 100 g pekanneute, gekap

Plaas suiker, stroop en botter in kastrol. Bring tot kookpunt oor lae hitte terwyl jy roer. Haal van hitte af en laat staan sowat 2 minute. Voeg eier en neute by. Meng goed en laat effens afkoel voor gebruik.