Foto's deur Donna Lewis

SATIE KOS OKT/NOV 2012

Foto's deur Donna Lewis SATIE KOS OKT/NOV 2012

Bykos

Tortano-italiaanse aartappelbrood

Dié brood word gemaak met ’n deeg wat oornag rys. Dit gee die brood ’n dieper gissmaak.
2 Brode

• 1 x 10 g-sakkie kitsgis
• 250 ml louwarm water
• 100 g (180 ml) koekmeel
• 170 g aartappel, gekook tot sag en fyngedruk
• 575 g (1 025 ml) broodmeel
• 420 ml water
• 45 ml heuning
• 15 g (15 ml) sout

Plaas gis, louwarmwater en koekmeel in middelslag-mengbak. Roer met houtlepel tot goed gemeng. Sit 6 uur of oornag in yskas om te rys. Plaas gismengsel, fyngedrukte aartappels, broodmeel, water, heuning en sout in bak van elektriese menger. Knie op hoë spoed vir 10 – 12 minute of tot deeg in een bal saamkom. Plaas deeg in bak wat met olie gesmeer is en laat rys op warm plek tot dubbel die volume, sowat 2 – 4 uur. Knie die brood af en laat weer rys vir 20 minute.Herhaal proses nog 3 keer.Vorm deeg in groot ronde bal en sit op bakplaat wat met kleefwerende kossproei gespuit is. Druk effens plat en maak met jou vinger ’n gaatjie in die middel van die brood. Rek die gat groter tot sowat 10 cm in deursnee. Sif dun lagie meel oor brood en laat rys vir nog 25 – 30 minute of tot dubbel die volume. Terwyl brood rys, verhit oond tot 220 °C.Gebruik ’n skerp mes en maak 4 snye bo-op brood. Bak vir 30 – 35 minute of tot goudbruin en gaar.

WENK
Dis ʼn baie sagte deeg. Doop jou hande in koekmeel voor jy daarmee werk om te keer dat dit aan jou hande vassit.