Diabeties

Lemmetjie-en-klapper-kaaskoekies, Bessie-kaaskoek-nagereg, Jogurtjellie (Trio van nageregte)

Lemmetjie-en-klapperkaas-koekies
(12 kolwyntjie-groote kaaskoekies)

Kors

  • ½ pakkie volgraan- Digestive-koekies, fyngemaak
  • 25 g laevet-margarien

Vulsel

  • 100 g fruktose of xylitol
  • 25 ml mielieblom
  • 230 g laevet-roomkaas
  • 200 g vetvrye gladde maaskaas
  • 3 groot eiers
  • 100 ml laevet-klappermelk
  • skil en sap van 1 lemmetjie
  • 4 volgraan-Digestive-koekies, gekrummel

Verhit oond tot 160 °C. Meng beskuitjies en margarien en druk vas op bodem van kolwyntjiepanne wat met kolwyntjiehouers uitgevoer is. Meng nou fruktose, mielieblom, roomkaas, maaskaas en eiers tot glad. Voeg klappermelk, skil en lemmetjiesap by en meng verder. Verdeel mengsel tussen kolwyntjiepanne en bak vir 25 – 30 minute tot gestol. Laat afkoel en sit voor met gekrummelde koekies bo-op.

KOMMENTAAR
Dis ’n goeie plan om die nagereg vooraf in klein porsies te verdeel. Dit het reeds ’n lae GI, en as jy ditboonop saam met vars bessies voorsit, word die GI nog verder verlaag. Die vetinhoud van die gereg kan verminder word deur die kors met Mariebeskuitjies te vervang, wat dan bloot onderin die kolwyntjiehouers gesit word. Die laevet-roomkaas kan om die helfte met vetvrye gladde maaskaas vervang word waarmee die vetinhoud van die gereg met byna 20% verminder word. – Hilda Lategan

Bessie-kaaskoek-nagereg
(4 groot porsies of 8 – 12 kleiner porsies)

  • 125 ml laevet-roomkaas
  • 125 ml laevet-ricottakaas
  • 45 ml suiker of suikerplaasvervanger
  • skil en sap van ½ lemoen
  • 3 koppies bessies (bv. gesnyde aarbeie, bloubessies, frambose) of bevrore bessies
  • klapperskaafsels

Meng roomkaas, ricottakaas, suiker, skil en sap deeglik in voedselverwerker. Verdeel die bessies tussen 4 glase. Bedek met kaasmengsel. Laat staan in yskas vir ongeveer 4 uur. Sit voor met klapperskaafsels.

Jogurtjellie
(4 groot porsies of 8 – 12 kleiner porsies)

  • 20 ml kookwater
  • 20 ml gelatienpoeier
  • 400 ml vetvrye aarbeijogurt
  • 1 pakkie suikervrye aarbeijellie
  • vars bessies van jou keuse of bevrore bessies

Sit kookwater in ’n bakkie, sprinkel gelatien oor en roer tot opgelos. Voeg by jogurt en meng tot glad. Spuit 4 ramekinbakkies of jellievorms met kleefwerende kossproei. Verdeel jogurtmengsel tussen ramekins en laat stol in yskas. Maak jellie aan volgens aanwysings op pakkie. Laat afkoel. Gooi jellie oor gestolde jogurt en plaas terug in yskas tot gestol. Kan in bakkie voorgesit word of uitgekeer word. Sit voor met bessies.

Variasie: Gebruik vetvrye vanielje-jogurt en 2 ml vanielje pleks van die aarbeijogurt.

KOMMENTAAR
Diabete mag af en toe ietsie soets eet, maar dan moet dit in berekening gebring word by die maaltyd wat daarmee saam geniet word. – Hilda Lategan