FOTO: Micky Hoyle

Gebak

Tweelaag-sjokoladekoek

Baie maklik om te bak. Die karringmelk in die mengsel maak dit lekker klam.
Genoeg vir 10 – 12

  • 560 g (1 000 ml) koekmeel
  • 800 g (1 000 ml) suiker
  • 160 g (400 ml) kakao
  • 20 ml bakpoeier
  • 4 eiers
  • 7 ml sout
  • 500 ml karringmelk
  • 500 ml sonneblomolie
  • 10 ml vanieljegeursel
  • 500 ml kookwater

Sit die oondrak in die middel van die oond. Verhit oond tot 150 ºC. Voer die bodem van twee 25 x 7 cm-losboomkoekpanne uit met bakpapier. Spuit pan goed met kleefwerende kossproei. Plaas al die bestanddele vir die mengsel in die mengbak van ’n elektriese menger. Meng goed teen medium-spoed. Verdeel mengsel in koekpanne en plaas in oond. Bak 1 uur en 15 minute. Toets met ’n dun pennetjie om seker te maak dis gaar – dit moet skoon uitkom. Haal uit en laat eers ’n bietjie afkoel in panne. Keer versigtig uit en laat verder afkoel op afkoelrakke.

Sjokoladeversiersel

  • 250 g (270 ml) botter by kamertemperatuur, in blokkies gesny
  • 400 g (770 ml) versiersuiker, gesif
  • 80 g (200 ml) kakao, gesif
  • 50 ml melk

Plaas botter in mengbak van elektriese menger. Verroom tot glad. Voeg  versiersuiker en kakao by. Meng goed tot glad. Voeg melk by en meng tot glad. Verdeel versiersuiker en smeer een deel op een laag van die koek. Plaas ander koeklaag bo-op en versier met res van versiersel.