Foto deur Micky Hoyle

Foto deur Micky Hoyle

Gebak

Veselryke piesangbroodjie

Piesangbrood is ’n staatmaker vir enige kosblik. Ek bak gewoonlik twee, en sny die een op in snye wat ek vir later vries. Pak die piesangbroodjie in saam met ’n klein pakkie neute (amandels, okkerneute of pekanneute), en vetvrye drinkjogurt.

(8 – 10 klein broodjies of 2 middelslag-brode)

  • 375 ml fyngemaakte piesang (ongeveer 4 ryp piesangs)
  • 125 ml vetvrye vanieljejogurt
  • 500 ml All Bran-hoëveselontbytkos met semels
  • 90 g “lite” margarien
  • 125 ml strooisuiker of suikerplaasvervanger
  • 1 eier
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 60 ml gekapte pekanneute
  • 375 ml volgraanmeel
  • 10 ml bakpoeier
  • 2,5 ml koeksoda
  • knippie sout

Verhit oond tot 180 °C. Spuit 8 klein broodpannetjies (5 cm x 8,5 cm) of 2 middelslagpanne met kleefwerende kossproei. Meng die piesang, jogurt en hoëvesel-ontbytkos en laat ’n rukkie staan om te week. Verroom die margarien en suiker met ’n klitser tot lig en romerig. Voeg die eier en geursel by. Voeg die piesangmengsel by, asook die neute. Sif die meel, bakpoeier, koeksoda en sout saam en roer in by die piesangmengsel. Skep in voorbereide panne en bak vir 35 – 40 minute tot gaar.

Veselryke piesangbroodjie – analise per sny (10 snye per middelslag-brood)
Energie 474 kJ
Koolhidrate 21 g
Proteïen 3 g
Vet 4g
Versadigde vet 0,6 g
Mono-onversadigde vet 1,5 g
Poli-onversadigde vet 1 g
Glukemiese lading 11

Kommentaar van Dieetkundige
Dié broodjie is ’n lekker alternatief vir brood. Die glukemiese lading van 11 per sny maak dit ’n lekker peuselhappie. Twee snye met bv. suikervrye grondboontjie botter is ’n middagete.