FOTO Donna Lewis

FOTO Donna Lewis

Gebak

Vla-doughnuts

Die bier help dat die deeg ekstra pofferig rys en ’n veerligte tekstuur het.

genoeg vir 12

• 100 ml louwarm bier (lager of ale)
• 55 ml melk
• 50 ml strooisuiker
• 70 g botter, gesmelt
• 2 eiers
• 10 g kitsgis
• 365 g (650 ml) koekmeel
• sonneblomolie vir diepbraai
• karamelsous vir voorsit

VULSEL
• 300 ml melk
• 3 eiergele
• 45 ml mielieblom
• 5 ml vanieljegeursel
• 60 ml strooisuiker

Plaas bier, melk, suiker, botter, eiers, gis en koekmeel in bak van elektriese menger. Klits by hoë spoed met menger se mengspaan (K-beater) tot mengsel in een bal saamkom. Plaas deeg in skoon bak. Bedek bak met kleefplastiek en laat rys deeg tot dubbel die volume, 45 – 60 minute. Sprinkel meel op werkvlak, keer deeg uit en druk plat tot sowat 1 cm dik. Sny sirkels van 5 cm in deursnee met koekiedrukker uit. Plaas op bakplaat wat met meel besprinkel is. Laat rys weer tot dubbel die volume op warm plek, sowat 30 minute. Maak vulsel terwyl die deeg rys. Plaas al die bestanddele in ’n mengbak en klits met draadklitser tot glad. Plaas in middelslag-pot oor lae hitte. Roer deurentyd tot mengsel verdik soos ’n witsous. Roer nog 5 minute of tot vlamengsel ’n blink voorkoms kry. Skep in skoon bak en plaas kleefplastiek direk op vla. Laat koel af. Maak nou die doughnuts. Verhit sonneblomolie tot warm in ’n middelslag-pot en gooi gerysde deegsirkels in warm olie. Diepbraai 3 – 4 sirkels op ’n slag 3 – 5 minute per kant of tot goudbruin. Dreineer op kombuispapier. Skep afgekoelde vla in spuitsak met ’n 5 mm-tuit. Druk tuit in die kant van die gaar doughnuts en spuit van die vla binne- in. Sit voor met karamelsous.