FOTO Donna Lewis SARIE KOS Augustus/September 2014

Gebak

Glutenvrye vlaskywe

Die geheim van hierdie lekker vlaskywe is om jou eie blaardeeg te maak. Dis baie werk, maar jy kan dit ook vir hoenderpastei of enige ander gebak gebruik.

genoeg vir 8–10

• 140 g aartappelmeel
• 140 g mielieblom
• 50 g bruinrysmeel
• 50 g witrysmeel
• 150 g glutenvervanger
• 10 ml xanthaangom
• 3 ml guargom
• sowat 300 ml water
• 345 g (375 ml) botter

Vlavulsel
• 75 g (90 ml) suiker
• 45 g (90 ml) mielieblom
• 45 ml water
• 6 eiergele
• 600 ml melk
• 10 ml vanieljegeursel
• 230 g (440 ml) versiersuiker
• sap van 2 suurlemoene

Plaas aartappelmeel, mielieblom, 2 soorte rysmeel, glutenvervanger, xanthaangom en guargom saam in groot mengbak. Voeg genoeg water by om stywe, kniebare deeg aan te maak. Knie 5 minute of tot deeg glad is. Laat rus 2 uur in yskas.

Gebruik rolstok en slaan botter tussen twee plastiekvelle plat om ’n vierkant van 20 x 20 cm en 1,5 cm dik te maak.

Sprinkel meel op werkoppervlak en rol koue deeg uit tot vierkant van 30 x 30 cm. Plaas geslaande bottervierkant in middel van deegvierkant. Vou deegrande om tot hele blok botter toegevou is met deeg. Gebruik rolstok en rol deeg-en-botter-vierkant uit tot 50 cm lank. Vou linkerkantste derde van deeg na regs. Vou regterkantste derde van deeg na links bo-oor ander deeg. Herhaal uitrol-en-vouproses. Laat rus 2 uur in yskas. Herhaal uitrol-en-vouproses nog een keer. Laat rus nog 2 uur in yskas. Dis belangrik om deeg so koud moontlik te hou terwyl jy die vouwerk doen, anders sal die botter uitsmelt.

Verhit oond tot 180 °C. Rol blaardeeg op meelbestrooide oppervlak uit tot sowat 5 mm dik. Sny 3 repe van 25 x 15 cm uit deeg en plaas op bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is. Plaas tweede vel papier bo-op deeg, met nog ’n bakplaat bo-op papier sodat dit die deeg platdruk. Plaas in oond en bak 25–30 minute of tot goudbruin en bros. Laat afkoel.

Vulsel 

Klits suiker, mielieblom, water en eiergele saam in mengbak. Bring melk en vanielje tot kookpunt in ’n kastrol. Gooi warm melkmengsel oor eiermengsel terwyl jy klits. Gooi mengsel terug in kastrol en roer met draadklitser oor lae hitte tot mengsel verdik soos witsous. Laat kook nog 5 minute tot gaar. Voer broodpan van 25 x 15 cm uit met bakpapier en spuit goed met kleefwerende kossproei. Plaas een reep blaardeeg in pan en gooi helfte van warm vulsel bo-op. Plaas tweede reep bo-op en gooi res van vulsel oor. Bedek met laaste reep en laat stol 3–4 uur in yskas. Keer uit op opdienbord. Meng versiersuiker en suurlemoensap. Gooi oor koek. Sit op opdienbord, sny in skywe en sit voor.