Foto's deur Donna Lewis

Foto's deur Donna Lewis

Gebak

Volgraanbrood

(10 – 12 porsies)
2 klein brode

  • 500 ml water
  • 1 x 10 g-sakkie kitsgis
  • 10 g sout
  • 100 ml heuning
  • 15 ml kaneel
  • 2 eiers
  • 375 g (670 ml) bruinbroodmeel
  • 375 g (625 ml) volkoringmeel
  • 75 g (625 ml) spysverteringsemels
  • 80 g (250 ml) hawermout

Verhit oond tot 180 ˚C. Meng water, gis, sout, heuning, kaneel en eiers in ‘n middelslag-mengbak. Voeg bruinbroodmeel, volkoringmeel, semels en hawermout by. Meng tot stywe, kniebare deeg (voeg ekstra bruinbroodmeel by indien nodig). Keer op werkvlak uit en knie vir 8 – 10 minute. Smeer ‘n bak met olie en plaas deeg in bak. Draai stewig toe met kleefplastiek en laat rys op ‘n warm plek tot dubbel die volume, sowat 30 minute. Verdeel deeg in twee gelyke balle. Spuit twee standaardbroodpanne van 21 x 11 cm met kleefwerende sproei. Vorm deeg in lang silinders en druk in gesmeerde panne. Laat weer rys tot dubbel in volume, sowat 30 minute. Plaas in warm oond en bak 30 – 35 minute of tot goudbruin en gaar. Keer uit op draadrak en laat afkoel. Sit voor met plaasbotter en konfyt.

So toets jy of brood gaar is: Klop liggies met jou kneukel op die brood – as dit ‘n hol klank het, is dit gaar.