sk07appelliefie04
Gebak

Volkoring-appelkoek

  • 4 groot rooi appels (Star King)
  • 250 g botter
  • 250 g bruinsuiker
  • 3 eiers
  • 1 Star King-appel, geskil, pitte verwyder en in dun skywe gesny
  • 350 g volkoringmeel
  • knippie sout
  • 10 ml bakpoeier
  • 100 g pekanneute, grofgekap
  • 5 ml fyn kaneel
  • 200 ml melk
  • 5 ml vanieljegeursel of 2,5 ml amandelgeursel

Smeer ‘n losboompan van 27 cm x 17 cm en voer dit met bakpapier uit. Sny die vier appels in skywe en verwyder die pitte, maar moenie skil nie. Rangskik die gesnyde appels onder in die pan. Room die botter en bruinsuiker saam in ‘n elektriese menger tot lig en romerig. Voeg die eiers een vir een by. Klits goed ná elke byvoeging. Voeg die skyfies van die 1 appel by en meng goed. Meng die volkoringmeel, sout, bakpoeier, pekanneute en kaneel saam. Vou die meelmengsel by die bottermengsel in. Gooi die vanieljegeursel by die melk en voeg dit by die koekmengsel. Meng goed. Skep die koekmengsel in die pan, oor die gesnyde appels. Bak in ‘n voorverhitte oond teen 180 °C vir sowat 45 minute. Verlaag die hitte tot 170 °C en bak ‘n verdere 15-20 minute tot gaar. Toets met ‘n toetspen om seker te maak die koek is gaar. Laat staan minstens 15 minute voor jy dit uitkeer.

Wenk
Jy kan die koek warm voorsit as nagereg. Geniet geklopte room, roomys of vla daarby. Sif versiersuiker oor die koek as jy dit koud voorsit, maar moenie skrik nie, die versiersuiker smelt redelik vinnig bo-op die koek. Dis omdat die appels klam is.

 

Om te drink
Du Toitskloof Hanepoot Jerepigo. Die jerepigo is gefortifiseer en die alkohol sal goed deur die ryk room of vla sny. Jerepigo pas ook fantasties by neute. Omdat daar heelwat pekanneute in die resep is, sal dit dus ‘n goeie keuse wees.