Gebak

Volkoring-klapperkoek

(1 koek, sowat 20 cm in deursnee)

  • 250 g (270 ml) botter
  • 275 g (330 ml) strooisuiker
  • 3 eiers
  • 350 g (580 ml) volkoringmeel
  • 10 ml bakpoeier
  • 5 ml sout
  • 250 ml klapper
  • 200 ml melk
  • 5 ml amandelgeursel

Verhit jou oond tot 180 °C. Voer ’n 20 cm-losboompan met bakpapier. Smeer of spuit die pan goed. Room die botter en strooisuiker saam tot lig en romerig. Klits die eiers een vir een by. Meng die meel, bakpoeier, sout en klapper. Voeg die meelmengsel om die beurt saam met die melk en amandelgeursel by die bottermengsel. Meng goed. Skep in die gevoerde pan en bak vir 40 – 45 minute tot gaar. Haal uit en laat afkoel.

Versiersel

  • 250 g (500 ml) versiersuiker, gesif
  • 30 ml botter, saggemaak
  • 125 g (125 ml) roomkaas

Meng al die bestanddele goed saam tot daar geen klonte is nie. Smeer die afgekoelde koek buite-om met die versiersel. Plaas meringues bo-op en bind ’n mooi lint om die koek.