mg_0625
Gebak

Wen-koeksisters

Susan se Koeksisters

(SOWAT 32)

STROOP

  • 3,2 kg (4 000 ml) suiker
  • 2 liter water
  • 5 ml sout
  • 5 ml kremetart
  • 2 of 3 stukke heel gemmer

Deeg

  • 1,25 kg (2 230 ml) koekmeel
  • 75 ml bakpoeier
  • 5 ml sout
  • 4 eiers
  • 60 ml olie
  • 500 ml water om mee te begin (hoeveelheid water sal wissel na gelang van die voginhoud van die meel)

STROOP

Voeg alles bymekaar in groot kastrol. Roer goed terwyl verhit word. Bring tot kookpunt sodra suiker gesmelt is. Verlaag hitte effens en kook vir 5 minute. Laat afkoel en verkoel dan oornag in yskas.

Deeg

Sif droë bestanddele saam in ’n mengbak. Klop eiers en olie goed en voeg water by. Voeg by droë bestanddele en meng met hande. Voeg nog water versigtig by om sagte deeg te maak. Knie baie goed vir 20 minute terwyl hande van tyd tot tyd in ekstra water gedoop word as deeg te droog voel. Maak deeg toe met kleefplastiek en laat rus 1 – 2 uur.

Rol deeg uit op gladde oppervlak wat met olie gesmeer is (moet verkieslik nie meel strooi nie, dit kan die olie laat skuim). Sny deeg in stroke en dan elke strook in repe van sowat 5 x 3 cmmet 2 of 3 bene wat aan bokant geheg bly en vleg of draai soos verkies. Druk aan oop kant goed vas, anders sal dit loskom in die bakproses. Moenie te styf draai of vleg nie. Verhit olie in diep kastrol tot ±180°. Sit koeksisters versigtig in olie (hoeveelheid olie sal afhang van kastrol se grootte). Bak tot goudbruin aan albei kante. Haal koeksisters met skuimspaan of gaatjieslepel uit olie en druk dadelik heeltemal onder koue stroop met plat sif of drukker waarmee kapokaartappels fyngemaak word, tot dit vol gesuig is. Laat afkoel, pak in plastieksakkies en hou in vrieskas tot nodig.