Gebak

Wen-suurlemoen-meringue-tert

Die vulsel vir hierdie resep het ek gekry van Madeleen Pienaar van Port Elizabeth. Sy en haar man, Theuns, was omtrent dertien jaar gelede die pastoriepaar op Bray in Noordwes. Ek kan maar net sê dankie, want die resep is ’n wenner. Ek het dit lank gehad voor ek dit begin bak het, maar toe ek eers begin het, kon ek nie ophou nie, so lekker is dit. Ek hoop dit sal vir ander mense net soveel genot verskaf soos vir my. Die vulsel smaak op sy lekkerste met vars suurlemoensap, maar suurlemoensap in ’n botteltjie werk ook goed. – Heather Strumpher

Heather se suurlemoen-meringue-tert

Deeg

Die deegresep is genoeg om twee tertkorse van 20 cm in deursnee te maak.

  • 210 g (375 ml) koekmeel
  • 105 g (125 ml) versiersuiker
  • 2 ml sout
  • 115 g (125 ml) botter
  • 125 ml room
  • 1 eiergeel
  • 15 ml suurlemoensap

Sif meel, versiersuiker en sout saam in ’n mengbak. Sny botter in klein blokkies en voeg by. Vryf botter met jou vingerpunte in tot dit soos broodkrummels lyk. Klits room, eiergeel en suurlemoensap saam. Maak holte in middel van meelmengsel en voeg roommengsel by. Meng goed met slaplemmes tot deeg vorm. Maak deeg toe met kleefplastiek en plaas in yskas vir sowat 30 minute. Verhit oond tot 180 °C.

Rol helfte van deeg uit op meelbestrooide oppervlak en voer ’n gesmeerde 20 cmtertpannetjie uit daarmee. Vries ander helfte tot benodig. Plaas ’n stuk bakpapier bo-op deeg in tertpan en vul met droë bone. Plaas in oond en bak 15 minute. Haal uit en verwyder bakpapier en bone. Plaas tertpan terug in oond vir nog 5 minute. Haal uit en laat kors afkoel.

Vulsel

  • 2 blikkies (385 g elk) kondensmelk
  • 2 eiergele
  • gerasperde skil van 1 suurlemoen
  • 200 ml suurlemoensap

Verhit oond tot 180 °C. Roer kondensmelk en eiergele saam in mengbak – die geheim is om nie te klits nie. Vou suurlemoenskil en sap in. Laat staan tot mengsel verdik. Skep in afgekoelde kors.

Meringue

  • 4 eierwitte
  • 210 g (250 ml) strooisuiker
  • 2 ml sout
  • 2 ml kremetart
  • 30 ml kookwater
  • 2 ml bakpoeier

Plaas eierwitte in mengbak. Gooi strooisuiker, sout en kremetart direk bo-o eierwitte. Begin stadig klits en stel dan menger hoër en klits tot stywe punte. Voeg kookwater by en klits weer tot styf. Vou bakpoeier in en skep mengsel bo-op suurlemoenvulsel. Plaas in warm oond van 180 °C en bak 15 minute. Verlaag die temperatuur tot 110 °C en bak verder vir 45 minute. Laat afkoel in oond.