Foto deur 
Micky Hoyle

Foto deur Micky Hoyle

Gebak

Winkeldeeg-doughnuts

Heerlik vir jou naweek tuisgebak!

Jy kan doughnut-pannetjies by die meeste kombuis- of dekorwinkels koop. Die doughnuts word nie in olie gebraai nie. Dit word in die oond gebak en is glad nie so vetterig nie.

• 100 g sjokoladesplinters
• 500 g gerysde winkelbrooddeeg
• 100 g (120 ml) strooisuiker
• 100 ml water
• 125 g (150 ml) strooisuiker
• 150 g melksjokolade
• 100 g amandelvlokkies

Verhit oond tot 180 °C. Spuit ’n kleefvrye doughnut-oondpan met kleefwerende kossproei. Voeg sjokoladesplinters by deeg en knie goed in. Verdeel deeg in 12 stukke. Rol elke stuk in ’n lang wors en vorm ’n sirkel. Plaas sirkel in doughnut-pan en laat rys nog sowat 15 minute. Plaas in oond en bak 20 minute. Gooi die 100 g strooisuiker en water in kastrol en bring tot kookpunt. Laat kook 2 minute. Haal doughnuts uit oond en keer versigtig
uit.

Doop in stroop en rol in die 125 g strooisuiker. Laat afkoel op afdroograk. Smelt sjokolade in bak wat op ’n kastrol met kookwater pas. Doop bokant van doughnuts in gesmelte sjokolade. Plaas amandels in kleefwerende pan en plaas op stoofplaat. Braai tot goudbruin. Sprinkel amandels op gesmelte sjokolade.