Foto deur Micky Hoyle

SARIE KOS AUG/SEP 2012

Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS AUG/SEP 2012

Gebak

Witsjokolade-profiteroles

(15 profiteroles)

Baktyd: 35 minute

  • 250 ml water
  • 100 g (110 ml) botter
  • 130 g (235 ml) koekmeel
  • 1 ml sout
  • 5 eiers
  • 500 ml room
  • 30 ml versiersuiker, gesif
  • 400 g witsjokolade

Plaas oondrak in middel van oond. Verhit oond tot 200 °C. Plaas water en botter in ’n kastrol en bring tot kookpunt. Wanneer die mengsel begin kook, voeg die meel en sout gelyktydig by en roer met ’n houtlepel tot die mengsel ’n pasta vorm. Die mengsel moet nie meer aan die bodem en kante van die kastrol vassit nie. Haal kastrol van hitte af en laat vir sowat 5 minute afkoel. Voeg eiers een vir een by en klop ná elke byvoeging goed met houtlepel. Voer ’n bakplaat met bakpapier uit. Skep eetlepels vol van die mengsel op die bakpapier. Plaas in die oond en bak vir 25 minute. Prik die poffertjies met ’n skerp mes of stokkie en bak vir nog 10 – 15 minute. Haal uit en laat afkoel. Klits room styf en voeg die versiersuiker by. Sny elke poffertjie in die middel oop met ’n skerp mes. Vul ’n spuitsak met die room en vul elke poffertjie daarmee. Smelt die sjokolade in ’n bak oor kookwater. Smeer die sjokolade oor poffertjies, laat hard word en sit voor.

Om te weet
As jou profiteroles insak, moet jy weet hulle het nie lank genoeg gebak nie. Jy kan ook die ongevulde profiteroles in ’n lugdigte houer hou. Verhit hulle net vir ’n paar minute in ’n warm oond voordat jy dit gebruik, laat afkoel en vul dan.