Foto's deur Micky Hoyle

Foto's deur Micky Hoyle

Gebak

Witsjokolade-tert met neutekors en suurlemoenbotter-en-basilietruffels

(10-12 porsies)

kors

  • 100 g geroosterde, gesoute makadamia-neute (kan ook kasjoeneute of haselneute bysit)
  • 175 g (190 ml) sagte botter
  • 40 g (80 ml) versiersuiker
  • 210 g (375 ml) koekmeel

Verhit oond tot 200 °C. Kap neute in voedselverwerker grof. Voeg res van bestanddele by en meng tot ‘n deeg vorm. Voer ‘n gesmeerde tertbord of losboom- quiche-pan (28 cm-deursnee) met die deeg uit. Maak toe met kleefplastiek en plaas vir ‘n halfuur in die vrieskas. Haal uit en bak vir 10 minute.

vulsel

  • 300 g witsjokolade
  • 165 g (180 ml) botter
  • 4 eiers
  • 60 ml suiker
  • 250 ml suurlemoensmeer (lemon curd)
  • 125 g mascarpone-kaas

Verhit oond tot 200 °C. Smelt sjokolade en botter saam in mikrogolf op laag. Roer elke minuut om te keer dat dit brand. Voeg eiers en suiker by en roer met ‘n ballonklitser tot gemeng. Bak in warm oond vir 8 – 10 minute. Haal uit en laat afkoel. Meng suurlemoensmeer met mascarpone en smeer oor die afgekoelde tert. Opsioneel Versier met basiliekruid-truffels (resep volg)
en kruisementblare. Eetbare vars blommetjies lyk ook mooi op die tert. Sny in skywe en sit voor as nagereg saam met soetwyn of koffie en tee.

basiliekruid-truffels
(30 truffels)

  • 250 g Belgiese donkersjokolade
  • 75 ml room
  • 6 – 8 vars basiliekruidblare
  • 30 ml bruinsuiker
  • 15 ml kakao
  • 100 ml kakao om truffels in te rol

Smelt sjokolade by ‘n lae stelling in mikrogolf. Roer elke minuut om te keer dat dit brand. Verhit room, basilieblare, bruinsuiker en kakao oor lae hitte. Roer aanhoudend dat suiker kan smelt. Wanneer dit begin kook, kook net 3 – 4 minute. Verwyder van hitte en haal basilieblare uit. Voeg roommengsel by sjokolade en roer met ‘n ballonklitser tot gemeng. Laat mengsel in yskas staan totdat dit net begin styf word – so 20 – 30 minute. Haal uit, skep teelepels vol van sjokolademengsel en rol balletjies. Rol die balletjies in die kakao om heeltemal te bedek. Sit bo-op die tert of sit net so saam met koffie voor. Die basilie is ‘n wonderlike maat vir donkersjokolade.