sk0910gesonder04
Gebak

Gesonder wortel-en-pekanneut-muffins

6 – 12 muffins
Porsiegrootte: 1 muffin

  • 300 g (535 ml) koekmeel
  • 7,5 ml bakpoeier
  • 5 ml fyn kaneel
  • 5 ml fyn neut
  • 2,5 ml sout
  • 120 g (150 ml) klam bruinsuiker
  • 75 ml gouestroop of heuning
  • 125 ml appelpuree
  • 175 ml sonneblomolie
  • 3 groot eiers, geskei
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 5 ml koeksoda, opgelos in 15 ml kookwater
  • 300 g gerasperde geelwortels
  • 100 g pekanneute, grofgekap

Verhit oond tot 180 ˚C. Voer muffinpanne uit met bakpapier of papierbakkies en spuit of smeer dit. Sif meel, bakpoeier, speserye en sout saam. Klits bruinsuiker, gouestroop, appelpuree, sonneblomolie en eiergele saam tot glad. Roer vanieljegeursel, opgeloste koeksoda, wortels en pekanneute by eiermengsel. Kombineer twee mengsels. Klits eierwitte styf en vou in. Verdeel deeg tussen panne en vee gelyk. Bak vir 35 tot 40 minute tot goud-bruin en gaar. Haal uit en laat afkoel.

Volrond
Die resep lewer 6 báie groot muffins − met ’n volume van 300 ml elk! Die deeg sal genoeg wees vir 24 standaard-muffins (75 ml elk). Ek gee ’n voedingstof-analise vir 6 en vir 12 porsies; besluit self oor die porsiegrootte.

Suikerkleur
Bruinsuiker gee ’n donkerder kleur, maar witsuiker kan ewe goed gebruik word. Daar’s nie juis ’n verskil in voedings-waarde tussen wit- en bruinsuiker nie.

Wortels
Die gerasperde wortels is met 100 g vermeerder vir meer vesel, geur en klamheid.

Lekker klam
Die gouestroop of heuning en appel-puree help om die muffins klam en sag te hou. Dis nodig omdat 200 ml sonneblomolie weggelaat is om die vetinhoud te verlaag.

Appelsoet
Suiker is met 230 g verminder, maar van die soetheid is vervang met gouestroop en appelpuree.

Vergelyking van voedingstof-analise per porsies

RESEP ENERGIE KOOLHIDRATE PROTEIENE VET CHOLESTEROL
12 muffins
Oorspronklik 2390 kJ 50,5 g 5,0 g 38,8 g 70 mg
Aangepas 1580 kJ 40,1 g 4,6 g 21,7 g 52 mg
6 muffins Energie Koolhidrate Proteiene Vet Cholesterol
Oorspronklik 4780 kJ 101,0 g 10,0 g 77,6 g 140 mg
Aangepas 3160 kJ 80,2 g 9,2 g 43,4 g 104 mg