VIA_FB_Inspirasiekos_pre
Kos

Inspirasiekos met SARIE se vonkelwynresepte (episode 15)

Herman proe vonkelwyn by Le Lude in Franschhoek. Wynmaker Paul Gerber neem hom op ’n keldertoer en dan kook Herman ’n feesmaal van perske-bellini, ’n tempura van steurgarnale met ‘n vonkelwynkors en bees-carpaccio met ‘n vonkelwyn-mosterd.

Perske-bellini met tiemie

Inspirasiekos5

Die klassieke Italiaanse drankie word gemaak van witperskes. Ek gee dit ekstra smaak met ’n klein bietjie tiemie.

genoeg vir 6

  • 10 geelperskes, ontpit en gehalveer
  • 200 g (250 ml) suiker
  • 250 ml water
  • 1 x 750 ml yskoue MCC-vonkelwyn
  • 6 takkies tiemie

Plaas perskes, suiker en water in ’n mediumgroot pot en bring tot kookpunt. Roer tot suiker opgelos is. Verlaag hitte en kook vir sowat 10-15 minute of tot perskes sag en pap is. Verwyder van hitte en maak met staafmenger fyn tot ’n gladde puree. Hou eenkant tot afgekoel. Skep puree in groot ponsbak en voeg tiemietakkies by. Gooi vonkelwyn by. Roer deur en sit voor.

Wenk

Jy kan dit ook in individuele glase maak en so voorsit.

Tempura van steurgaranale in vonkelwynkors

Inspirasiekos4

Dié inspirasie kom van ’n klassieke bierkorsresep af.

genoeg vir 8

  • 24 steurgarnale, skoongemaak
  • 24 hout-kebabstokkies
  • 1 x 750 ml vonkelwyn
  • 220 g (390 ml) bruismeel
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 750 ml sonneblomolie vir diepbraai

Steek die kebabstokkies in die garnale vanaf die garnaal se stertkant. Plaas vonkelwyn en meel in ’n middelslag-mengbak. Meng met draadklitser tot gladde mengsel. Geur goed met sout en swartpeper. Plaas olie in middelslag-pot en verhit oor matige hitte. Doop garnale in vonkelwynbeslag, laat oortollige beslag afloop en plaas in warm olie. Braai stadig tot goudbruin en bros, sowat 5 minute. Dreineer op kombuispapier. Sit warm voor.

 

 Bees-carpaccio met vonkelwyn-mosterd 

Inspirasiekos2

Die soetmosterd soos my ouma dit gemaak, ek gee dit ’n nuwe kinkel met MCC-vonkelwyn.

genoeg vir 6

  • 80 ml mosterdpoeier
  • 60 ml witwynasyn
  • 60 ml vonkelwyn
  • 180 ml suiker
  • 8 eiergele

Gooi die mengsel in ’n glasbak wat oor ’n pot kokende water geplaas is en roer aanhoudend tot die mengsel dik en gaar is. Verwyder van die hitte en meng 10 ml botter by. Laat afkoel en sit voor.

Vir die carpaccio 

  • 3 tiemie, gekap
  • 300 g beesfilet (ek verkies die dikker deel van die fillet)
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 100 g parmesaankaas
  • 80 g fyn slaaiblare
  • 175 g vars bessies en vye vir voorsit

Sprinkel kruie oor filet. Verhit kleefvrye pan tot warm en voeg olyfolie by. Braai vleis rondom tot bruin. Draai filet toe in kleefplastiek en plaas in yskas tot koud. Sny koue filet met plastiek aan in dun skywe met skerp mes en haal daarna plastiek van elke skyf af. Pak op opdienbord en sprinkel mosterd oor. Maak parmesaanskaafsel met groenteskiller en sprinkel saam met slaaiblare oor vleis. Pak vars vrugte op en sit voor.

 Lees nou

Inspirasiekos met SARIE se sampioen-resepte (episode 11)

Inspirasiekos met SARIE’ se wagyu-resepte (episode 12)

Inspirasiekos met SARIE se eier-resepte (episode 9)