VIA_FB_Inspirasiekos_post
Kos

‘Inspirasiekos met SARIE’ se sout-resepte (episode 13)

Herman maak ’n Weskus-draai by Jan Kotze, ’n soutvervaardiger van Velddrif. Jan wys Herman hoe die soutproses werk en dan maak Herman gebakte beet, sout-lamsboud met salsa verde en ’n gesoute piesang-karamelpoeding. En Whirlpool deel ’n resep vir gesoute karamel-versiering vir enige gebak.

Beet gebak in sout

Inspirasiekos_sout_beetslaai

 

Die sout maak die geur van die beet meer intens.

genoeg vir 6

  • 2 kg growwe sout
  • 40 ml vinkelsaad
  • 12 groot bete, met skil
  • 1 x 80 g-sakkie roketslaai
  • 12 radyse
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Slaaisous

  • 20 ml korrelmosterd
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 30 ml witwynasyn
  • 80 ml olyfolie
  • 1 x 250 g bakkie crème fraîche

Verhit oond tot 200 °C. Sprinkel helfte van growwe sout in oondbraaibak. Pak bete op sout en sprinkel vinkel oor. Bedek met res van sout.

Oondbraai 90 minute of tot bete sag en gaar is. Keer pan om en breek soutkors oop deur met ’n deegroller daarop te slaan terwyl dit nog warm is. Skil bete met skerp mes en sny elkeen middeldeur. Plaas roket en radyse op ’n opdienbord. Meng al die slaaisousbestanddele behalwe die crème fraîche. Gooi sous oor slaai en skep lepels vol crème fraîche bo-op. Geur goed en sit voor.

Lamsboud gebak in sout met salsa verde

Inspirasiekos_sout_lamsboud

 

Die soutkors hou al die vog binne die lam sodat die vleis sappiger is.

genoeg vir 6 – 8

  • 4 takkies roosmaryn (so lank soos wat jy kan kry)
  • 3 kg lamsboud aan die been
  • 10 knoffelhuisies
  • 60 ml olyfolie
  • 1,25 kg sout
  • 8 eierwitte

Salsa verde

  • 2 ansjovisfilette
  • 1 x 60 g-bakkie Italiaanse pietersielie
  • 80 ml olyfolie
  • sap en skil van 2 suurlemoene
  • soetmosterd vir voorsit

Verhit oond tot 180 °C. Pak roosmaryn in oondroosterbak en plaas lamsboud bo-op. Gebruik skerp mes se punt en steek 10 gate in die boud. Druk knoffelhuisie in elke gaatjie. Sprinkel olyfolie oor lam.

Meng sout en eierwitte saam tot mengsel lyk soos klam seesand. Skep mengsel oor lamsboud – maak seker die hele boud is bedek. Bak in oond vir 90 minute. Haal uit en laat rus vir 20 minute. Breek soutkors oop en verwyder die meeste van die sout. Sny lam in skywe en sit voor met salsa verde.

Maak salsa verde so

Plaas ansjovis, pietersielie, olyfolie, sap en skil van suurlemoen in voedselverwerker. Maak fyn tot gladde puree. Geur met sout en peper.

Banana split, opgetof!

Inspirasiekos_sout_banana split

 

Wie onthou nie die klassieke nagereg van die 1980’s nie? Hier is my weergawe, reg om verder die 21ste eeu in te vlieg!

genoeg vir 6

  • 200 g witsuiker
  • 100 ml water
  • 50 ml botter
  • 125 ml room
  • 5 ml sout
  • 6 piesangs, geskil en elk in 6 skywe gesny
  • 250 ml grenadellasmeer (curd)
  • 1 liter vanieljeroomys
  • kleurstrooisels vir oorsprinkel

Gooi suiker in ’n pot en voeg water en botter by. Roer met ’n draadklitser oor lae hitte tot opgelos. Bring tot kookpunt en laat vinnig kook tot ’n goue karamel vorm, sowat 8 -10 minute. Moenie roer terwyl die sous kook nie. Voeg 125 ml room by en meng vinnig met ’n draadklitser tot ’n gladde karamel vorm. Werk versigtig, want die mengsel is baie warm. Laat koel af en gooi sout by.

Pak piesangskywe op opdienbord. Skep lepels vol grenadellasmeer tussenin. Skep balle roomys by. Gooi kleurstrooisels en karamelsous oor. Sit voor.

whirlpool

Gesoute karamel-versiering 

vir enige gebak

1

Karamelsous

  • 500 ml suiker
  • 100 ml water
  • 180 ml ongesoute botter
  • 250 ml room, by kamertemperatuur
  • 15 ml seesoutvlokkies

Versiersel

  • 180 ml sagte, ongesoute botter
  • 250 ml versiersuiker
  • seesoutvlokkies

Gooi suiker in ’n pot en voeg water en botter by.

2

Roer met ’n draadklitser oor lae hitte tot opgelos. Bring tot kookpunt en laat vinnig kook tot ’n goue karamel vorm. Sowat 8-10 minute. Moenie roer terwyl die sous kook nie. Voeg 125 ml room by en meng vinnig met ’n draadklitser tot ’n gladde karamel vorm. Werk versigtig, want die mengsel is baie warm. Laat koel af en gooi sout by.

4

Plaas botter in elektriese menger se bak en klits vir sowat 5 – 8 minute tot lig en romerig. Voeg versiersuiker by. Meng goed. Voeg karamelsous by na smaak. Versier afgekoelde kolwyntjies hiermee. Sprinkel karamelsous en soutvlokkies oor.

Produk van die week: Whirlpool 6th SENSE-stoof

Gebruik Whirlpool se induksie-stoof met unieke 6th SENSE-tegnologie. Smelt, prut en kook vir die perfekte resultate.

Lees meer HIER

BA