FOTO Micky Hoyle

FOTO Micky Hoyle

Kos

Kaaskoek spesiaal vir die Leeus

Suid-Afrikaners sal môreoggend om 09:35 vir die Leeus skree in die eindstryd van die Superrugby-reeks. Die agtsteman Warren Whiteley sal die Leeus lei teen die Hurricanes in Wellington, Nieu-Seeland. Kyk wie is die spanne hier.

Volgens Sport24 se Heinz Schenk is die kanse goed dat die Leeus met die titel kan wegloop! Maar met die gure weer wat Wellington die afgelope week geteister het, kan dit ’n uitdaging wees.

Wen of verloor – ons is trots op hulle! En wat is beter as om dit met ’n sny koek te vier.

Sjokolade-en-karamel-kaaskoek

KORS

• 1 pakkie (200 g) veselkoekies (digestive biscuits)
• 50 g (60 ml) suiker
• 100 g (110 ml) ongesoute botter, gesmelt
• 100 g 70%-donkersjokolade, gesmelt

VULSEL

• 1 kg roomkaas
• 210 g (250 ml) strooisuiker
• 25 g (45 ml) koekmeel
• 5 groot eiers, kamertemperatuur
• 125 ml room
• 5 ml vanieljegeursel
• 1 x 360 g-blik karamel

BOLAAG

• 165 g fudge
• 125 ml room
• 300 g 70%-donkersjokolade
• 80 g witsjokolade

FOTO Micky Hoyle

FOTO Micky Hoyle

1. KORS Verhit oond tot 180 °C. Spuit ’n 23 cm-losboom-koekpan met kleefwerende kossproei. Bedek die buitenste rand van die koekpan met foelie en draai dan kleefplastiek om om te keer dat die vulsel uitloop as die pan dalk lek.

Plaas koekies en suiker in ’n voedselverwerker en kap tot fyn krummels vorm. Voeg gesmelte botter by en meng goed. Gooi mengsel in koekpan en gebruik vingerpunte om pan daarmee uit te voer. Die mengsel hoef nie tot heeltemal bo teen die rand te kom nie. Gooi gesmelte sjokolade op bodem en smeer plat. Maak pan toe met kleefplastiek en plaas in yskas tot benodig.

2. VULSEL Plaas roomkaas, strooisuiker en meel in mengbak van ’n elektriese menger. Klits goed vir 2 minute. Skraap kante van mengbak skoon. Breek eiers een-een by en klits elke keer goed. Voeg room by en klits goed vir sowat 5 minute. Voeg geursel en karamel by en klits goed.

3. Plaas uitgevoerde koekpan op ’n bakplaat en gooi vulsel in. As al die vulsel in is en niks lek nie, verwyder die kleefplastiek voor jy dit in die oond sit (behou die foelie). Plaas in oond en bak 15 minute. Draai temperatuur af tot 120 °C. Bak nog 1 uur en 45 minute. Haal uit en laat afkoel. Wanneer afgekoel, plaas in yskas – verkieslik oornag.

4. BOLAAG Breek fudge in stukke en plaas in ’n kastrol. Voeg room by en
plaas op ’n baie lae temperatuur op ’n stoofplaat. Roer sous nou en dan tot gesmelt. Haal af van hitte en gooi in ’n bakkie. Laat heeltemal afkoel by kamertemperatuur. Maak toe met kleefplastiek en plaas in yskas tot benodig. Breek donkersjokolade in
stukke en plaas in ’n mengbak wat bo-op ’n kastrol met kookwater sal pas. Haal
kastrol af van stoofplaat en plaas bak op kastrol. Laat sjokolade smelt. Skep
sjokolade in rugbybal-plastiekvorms (sien bl. 12) en laat hard word by kamertemperatuur.

Keer versigtig uit en plak aanmekaar met nog gesmelte
sjokolade. Smelt die witsjokolade soos die donkersjokolade. Skep in ’n klein spuitsak en spuit klein strepies op balle. Haal kaaskoek versigtig uit koekpan en plaas op opdienbord. Gooi karamelsous oor en garneer met rugbyballe.

BARBARA SE WENK

Moenie bekommerd raak as die kaaskoek bo-op bars en taamlik rys nie. Dit kan veral teen die einde van die bakproses gebeur. Wanneer die koek afkoel, sal dit effens sak en die krake sal toegaan.