Labneh-kaas met babagroente, Donna Lewis

Labneh-kaas met babagroente FOTO Donna Lewis

Kos

Labneh-kaas met babagroente

Labneh is ’n jogurtkaas van Libanon in die Midde-Ooste. Dis baie maklik om te maak, maar moet lank genoeg in die yskas hang sodat die wei kan afloop.

genoeg vir 4

• 1 liter Griekse volroomjogurt (dubbeldik)
• 5 ml sout
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• 1 m melkdoek (moeseliendoek, kyk by materiaalwinkels)
• 1 x 30 g-pakkie grasuie, fyngekap
• 24 stukke gemengde babagroente (klein wortels, radyse, sprietuie)
• 60 ml olyfolie
• 1 hand vol vars basiliekruid
• sout en varsgemaalde swartpeper

Begin 3 dae voor jy die kaas wil voorsit: Meng jogurt, sout en knoffel. Vou melkdoek dubbel en plaas in ’n skoon glasbak sodat die doek oor die rand hang. Gooi die jogurtmengsel in die doek en bring die punte van die lap bymekaar. Draai baie styf toe sodat die jogurt in ’n bal saamgepers word. Bind stewig vas met kombuistou. Laat hang in jou yskas met ’n glasbak onder die jogurt – die jogurt moet sowat 10 cm bo die bak hang sodat die wei kan afloop. Druk die jogurt ná 24 uur nog fermer bymekaar en bind die doek weer vas. Laat hang vir nog 2 dae. Haal die kaas uit die doek en verdeel in 24 balle. Rol met nat hande in ronde balletjies. Rol dan die kaasballe in gekapte grasuie. Plaas babagroente op opdienbord en sit kaasballe bo-op. Sprinkel olyfolie en basiliekruid oor. Geur goed met sout en peper.

WENK
Jy kan ook die gerolde kaasballe in ’n glasfles pak en met olyfolie bedek. so sal die kaas vir tot 1 maand in jou yskas hou. Gebruik dit soos feta in slaaie.