sk1003sokker02
Gebak

Koue varkvleispasteie

Deur Lise Beyers

4 – 6 porsies

Varkvleis-aftreksel

  • 2 liter water
  • 1 varkpoot
  • 500 g varkbene
  • 1 ui, in kwarte gesny
  • 2 wortels
  • 6 peperkorrels
  • 3 heel naeltjies

Plaas alles in ‘n groot kastrol en bring tot kookpunt. Laat stadig prut vir 5 ure. Giet deur ‘n sif en hou eenkant.

Deeg

  • 100 g (110 ml) botter
  • 100 ml kookwater
  • 280 g (500 ml) koekmeel
  • 5 ml sout
  • 1 groot eier

Smelt botter in kookwater. Plaas meel en sout in groot mengbak, maak holte in die middel en gooi eier daarin. Voeg warm bottermengsel by en roer tot ‘n deeg. Knie liggies vir ‘n paar minute.

Vleisvulsel

  • 500 g varkvleis (boud of blad), in klein blokkies gesny
  • 200 g vark-maalvleis
  • 3 repies spek, in klein blokkies gesny
  • 10 salieblare, fyngekap
  • 5 ml sout
  • 5 ml witpeper
  • 5 ml varsgemaalde swartpeper

Meng al die vulsel-bestanddele goed in ‘n mengbak. Maak nou die pasteie Verhit oond tot 150 °C. Rol deeg so dun as moontlik uit. Smeer klein muffinpanne (of ‘n koekpan) met botter. Sny sirkels (of een grote) uit wat in panne pas. Voer panne met deeg uit. Vul pasteie met vleismengsel. Sny dekseltjies (of een grote) uit oorblywende deeg en maak pasteie netjies toe. Sny ‘n klein gaatjie bo-in elkeen – ná die bak word die aftreksel daarin gegiet. Bak vir ‘n halfuur. Verhoog die temperatuur na 180 °C en bak vir nog ‘n halfuur. Haal pasteie uit pannetjies en sit hulle onderstebo op bakplate en vir 15 minute terug in die oond – wat afgeskakel is. Wanneer hulle ‘n bietjie afgekoel het, gebruik ‘n spuit en vul met ‘n bietjie aftreksel. (As die aftreksel gestol het, maak dit ‘n bietjie warm om dit te smelt.) Sit voor met pekeluitjies, agurkies en piccalilli.

Om te drink: ‘n Donker ale soos Guinness