Middel van die week

Jou week se eetplan: 6-uur tuis, eet ½7

As jy dié lente saans eerder wil kuier as om ure lank kos te maak, berei gou een van hierdie geregte.

Geroomde sampioene en spinasie op roosterbrood

genoeg vir 4

Sny 500 g sampioene in skywe. Verhit sowat 40 ml olyfolie in ’n diep pan. Voeg sampioene en 2 fyngekapte knoffelhuisies by. Geur met sout en varsgemaalde swartpeper en braai tot sampioene sag is. Voeg 400 g spinasieblare by sampioene en braai tot blare verlep het. Voeg 250 g crème fraîche by en roer deur tot crème fraîche warm is. Sit voor met snye geroosterde ciabattabrood.

Lamstjops met aartappels en pesto

genoeg vir 4

Verhit oond tot 200 °C. Verhit sowat 40 ml olyfolie in ’n diep oondvaste pan. Braai 4 lamstjops weerskante tot mooi bruin. Geur met sout en varsgemaalde swartpeper. Haal uit pan en hou tjops eenkant. Sny 700 g baba-aartappels in dun skywe en plaas in pan waarin tjops gebraai is. Braai aartappelskywe tot net bruin en plaas tjops bo-op. Voeg 60 ml basiliekruidpesto by en meng deur. Plaas in oond vir sowat 15 minute. Sit warm voor.

Salami-tortilla-pizza

genoeg vir 4

Verhit oond tot 220 °C. Plaas 4 tortillas op ’n bakplaat. Smeer sowat 5 ml olyfolie op elke tortilla. Rasper 300 g mozzarellakaas en sprinkel ’n kwart op elke tortilla. Sny 3 groot tamaties in skywe en rangskik op kaas, gevolg deur 70 g salami-skywe. Kap ’n hand vol vars basiliekruidblare fyn en sprinkel bo-op. Geur met sout en varsgemaalde swartpeper. Sprinkel nog ’n bietjie olyfolie oor elke tortilla. Oondbak 20 – 25 minute in warm oond. Haal uit en sit warm voor.

Varkvleis en boontjies

genoeg vir 4

Kap 1 ui fyn. Verhit sowat 40 ml olyfolie in ’n diep pan. Braai ui en 2 fyngekapte knoffelhuisies tot sag. Sny 400 g gerookte varksteaks (gammon) in blokke en voeg by. Voeg 1 blik (400 g) kersietamaties by. Dreineer 1 x 400 g-blik cannellini-bone en 1 x 400 g-blik lensies in ’n vergiettes. Spoel af met koue water. Voeg by vleis. Geur met sout en varsgemaalde swartpeper en laat prut oop vir sowat 25 minute. Net voor jy dit voorsit, kap ’n hand vol basiliekruidblare fyn en sprinkel oor.

Quesadillas met ham en kaas (net 15 minute!)

genoeg vir 4

Rasper 300 g cheddarkaas en 300 g mozzarellakaas. Meng kaas in ’n mengbak. Plaas 4 tortilla-voupakkies (wraps) op ’n werkvlak. Sprinkel helfte van kaas op tortillas. Plaas so 4 snye ham op elke tortilla en smeer 5 ml basiliekruidpesto op elkeen. Sprinkel res van kaas bo-op en bedek met nog 4 tortilla-voupakkies. Verhit ’n groot kleefvrye pan en plaas 1 dubbele tortilla op ’n slag in warm pan. Druk stewig vas met eierspaan. Wanneer bros aan een kant, draai versigtig om en braai verder tot kaas gesmelt het. Haal uit en herhaal met res. Sny in wiggies en sit warm voor.

Jou inkopielys

Laai jou inkopielys vir die week se vinnige resepte HIER af.

Inkopielys