Middel van die week

Springmielies met sjokolade en neute

Dit laat my dink aan fliek kyk – springmielies eet saam met sjokolademoutballe. Dis ’n kinderbederf vir grootmense!

genoeg vir 8

• 200 g donker baksjokolade
• 100 g springmielies, geskiet
• 100 g neute van jou keuse
• kleurstrooisel (hundreds and thousands) vir oorsprinkel
• varsgemaalde sout

Smelt sjokolade in glasbak oor pot met kookwater. Moenie dat die bak aan die water raak nie. Voer ’n bakplaat uit met bakpapier en spuit goed met kleefwerende kossproei. Skep sjokolade op bakplaat en smeer met agterkant van ’n lepel tot sowat 3 mm dik. Sprinkel springmielies, neute en kleurstrooisel oor. Sprinkel sout oor en laat stol tot hard in yskas. Breek in groot stukke en sit voor.