Middel van die week

Spaanse-wors-en-groente-polenta-gebak

Die bekende mieliemeel-paptert uit die Vrystaat het my geïnspireer om iets anders te probeer. Noem dit sommer die Italiaanse paptert.

genoeg vIr 6
• 30 ml olyfolie
• 1 ui, fyngekap
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• 2 x 410 g-blikke gekapte tamaties
• 100 ml witwyn
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 500 ml hoenderaftreksel
• 500 ml kookwater
• 250 ml polenta (sien bl. 34)
• 15 ml botter
• 200 g parmesaankaas, fyngerasper
• 60 ml olyfolie
• 6 murgpampoentjies, in skywe gesny
• 250 g sampioene, in skywe gesny
• 4 Spaanse worse, in skywe gesny

Verhit olyfolie in kastrol. Gooi ui en knoffel in en braai tot sag en deurskynend. Voeg tamaties en wyn by. Geur met sout en peper. Laat prut oop vir sowat 1½ uur tot tamatiesous lekker dik is. Verhit intussen oond tot 200 °C. Gooi hoenderaftreksel en     500 ml kookwater in ’n kastrol. Bring tot kookpunt en verwyder van hitte. Voeg polenta stadig by terwyl jy heeltyd roer met ’n ballonklitser. Meng goed. Plaas terug op lae hitte en hou aan roer tot polenta verdik het. Haal af van hitte en voeg botter by. Meng goed deur. Geur met sout en peper. Voeg helfte van gerasperde kaas by en meng goed deur. Skep polenta in oondbak en smeer egalig. Gooi tamatiesous bo-op. Verhit helfte van olyfolie in pan en braai murgpampoentjies en sampioene tot sag. Geur met sout en peper en skep bo-op tamaties. Verhit res van olyfolie en braai Spaanse worse tot net bruin. Skep bo-op groente. Sprinkel met ’n bietjie van die res van die parmesaankaas en plaas in oond. Bak sowat 30 minute en sit warm voor saam met orige parmesaankaas.