sk1010barbara001
Kos

’n Ma kan ook gee op Moedersdag

Sondag was Moedersdag en gewoonlik word ma’s bederf. My bederf het al Saterdag begin toe my oudste dogter, Nina, wat in Pretoria bly, vir my ’n bos blomme laat aflewer het.

20160507_112216

My tweeling, Anya en Mia, kom ook die middag terug van die Waterfront af met nog ’n bos blomme. En Sondag lees ek toe die mooiste goed wat hulle op Facebook geskryf het oor hul ma.

Net daar besluit ek dat ek vandag vir hulle ook kan bederf met ’n baie groot quiche Lorraine. So 2 ½ jaar gelede was ons in Parys – ja, Frankryk. Ons het gereeld quiche Lorraine by klein bistro’s geëet vir middagete.

Dis Anya en Mia se gunsteling. Veral Mia, want sy is verslaaf aan spek.

Ek maak toe eerste my deeg. Omdat ek ’n baie groot quiche wou maak, gooi ek toe 400 g (715 ml) koekmeel in my voedselverwerker. Ek sny toe 200 g (220 ml) ongesoute botter in blokkies en voeg dit by die meel in die voedselwerker. Ek meng dit tot die botter ingewerk is in die meel. Dan voeg ek 2 eiergele en 90 ml koue water by. Meng tot ’n deeg vorm en haal dit uit. Ek maak dit toe met kleefplastiek toe en plaas dit in die yskas.

Ek het toe na The Voice begin kyk – waar al die deelnemers hul ma’s prys en sê hulle hoop sy het ’n lekker rusdag gehad en dat sy nie hoef te gekook het nie. Die verskil vir my is: As ek kook en ek sien hoe my kinders dit geniet, is dit vir my die grootste geskenk.

Ek sny toe 400 g strepiespek in blokkies en braai dit tot bros in ’n kleefwerende pan. Jy moet nou jou oond verhit tot 180 °C.

foto 1

 

Ek rol toe my deeg baie dun uit op ’n meelbestrooide werkvlak en voer my groot pan uit met die deeg. Nou is dit reg vir blindbak. Jare gelede maak ek ’n suurlemoentert – wat Mia se gunsteling is – en sy sien toe hoe ek die bakpapier met droëboontjies bo-op die deeg plaas.

foto 2 (2)

 

Maande later vra sy toe vir my “Mamma, wanneer maak jy weer daai boontjietert?” Ek en sy het Sondag weer lekker daaroor gelag toe ek die bakpapier op die deeg plaas met droëbone bo-op. Jy plaas dit dan in die oond vir sowat 15 minute en haal dit uit.

foto 3

 

Terwyl dit afkoel, rasper ek 300 g gruyère-kaas. Sprinkel nou die kaas oor die deeg en sprinkel die spek bo-op.

foto 4

 

Ek klits toe 500 ml room, 250 ml melk en 6 eiers saam, gooi dit versigtig bo-oor die spek en plaas dit in die oond. Laat bak dit vir sowat 45 minute tot die eiermengsel gestol het.

foto 5

Ons Moedersdag-aandete was toe die groot quiche en ’n groenslaai – net soos ons dit in Parys geëet het. Toe Anya en Mia “mmmmm” sê, weet ek dís waarvoor ’n ma daar is!