kos_febmrt_web
Nagereg

2de plek: Wilmie Roos se suurlemoen-meringue-tert

Broskorsdeeg

  • 1 koppie koekmeel (250 ml)
  • 1 teelepel bakpoeier (5 ml)
  • 1 knippie sout
  • 1 eiergeel, geklits
  • 4 eetlepels botter of margarien (60 ml)
  • 2 teelepels strooisuiker (10 ml)
  • 4 eetlepels yswater (60 ml)

Voorverhit oond tot 200 ° C (425 ° F).  Sif koekmeel, bakpoeier en sout saam.  Werk botter of margarien met vingerpunte by meelmengsel in, totdat dit lyk soos growwe mieliemeel. Klits eiergeel, strooisuiker en yswater saam.  Sny met mes by meelmengsel in, tot deeg vorm. Smeer tertbord van omtrent 22 cm in deursnee met margarien of spuit met kleefwerende sproei. Druk die deeg op die boom en teen die kante van die tertbord vas, sodat dit dikkerig teen die kante en dun op die boom is. Skulp die rand rondom deur dit met die duim en wysvinger te knyp. Bak 10 minute in oond (blind gebak), tot ligbruin. Haal uit en laat afkoel.

 Suurlemoenvulsel

  • Halwe koppie sap van vars suurlemoene (125 ml)
  • 1 blik (397 g) kondensmelk
  • 1 knippie sout
  •  5 eiergele (bêre eierwitte eenkant vir  meringue)
  •  gerasperde skil van een suurlemoen

Voorverhit oond tot 160°C (325°F). Voeg suurlemoensap by die kondensmelk om  dik, romerige mengsel te vorm. Klits eiergele en voeg saam met sout en skil by kondensmelkmengsel. Meng goed. Skep in tertkors. Bak 20 minute sonder meringue.

Meringue

  • 5 eierwitte
  • 6 eetlepels strooisuiker
  • 1 knippie sout

Gooi  eierwitte van 5 eiers in mengbak.  Maak seker dat daar geen eiergeel of eierdop in is nie.  Klits eierwitte op matige spoed met klitser tot styf en punte vorm. Jy weet dit is styf genoeg wanneer bak onderstebo gehou word, en mengsel nie uitval nie.  Voeg strooisuiker en knippie sout lepelsgewys by.  Klits nou op vinniger spoed vir omtrent 10 minute, totdat meringue sag en glanserig is.

Finale stap

Haal suurlemoentert uit oond en skep lepelsvol meringue bo-op. (Onthou om nie die oond af te sit nie) Vat agterkant van lepel en lig so paar punte van meringue vir mooier voorkoms. Plaas tert  terug in oond en bak 20 minute tot meringue ligte goudbruin kleur is.  Laat afkoel (buite yskas) en sit voor.   Ek en my vennoot besit ‘n spysenieringsmaatskappy in Pretoria.  Ons moet gereeld resepte navors, aanpas en uittoets.  Die suurlemoen-meringue-tert is baie gewild by ons kliënte. Die kombinasie van soet en suur  is perfek, en die meringue het ‘n pragtige satyngladde voorkoms. Die tert kan vir allerlei geleenthede gemaak word, selfs vir nagereg. Skep net op en geniet.