FOTO Pinch of yum

FOTO Pinch of yum

Nagereg

5 nageregte sonder om te bak

Dié wat my ken, weet ek het ’n groot suikertand en is gedurig op soek na nuwe idees vir nageregte, veral as dit min moeite verg. My oog word gou getrek na soetgoed wat vol geure is: suurlemoen, grondboontjies en, natuurlik, sjokolade!

Ek deel graag 5 van my gunsteling-bloggers se nageregte wat nie gebak hoef te word nie. Hulle is al ou gunstelinge in my huis.

1. Suurlemoen-kaaskoek

The Recipe Rebel is ’n blog wat ek al lank volg. Nie net is haar resepte baie eenvoudig en maklik nie, maar die fotografie is so mooi dat jy nie anders kan as om dadelik kombuis toe te hardloop en te begin bak en brou nie. Die suurlemoen-kaaskoek het my hart gesteel lank voor ek dit geproe het, want dis so maklik om te maak!

 

2. Grondboontjie-happies

As kind het ek dit baie gemaak en aan my vriende by die skool verkoop vir ekstra geld. Dit bly een van my gunstelinge, maar deesdae tof ek hom so bietjie op met ’n paar korrels growwe seesout: hy lyk dan baie internasionaal! Build Your Bite se blogs gaan oor gesonder lewe en slimmer kook ter wille van beter gesondheid. Probeer gerus haar weergawe: dis bekostigbaar en maklik!

 

3. Karamelkoppies

Jou hart gaan smelt as jy A Pinch of Yum se blog begin lees. Alles is beeldskoon en lyk hemels lekker! Die eerste keer toe ek oë gelê het op hierdie ongebakte gesoute karamelkoppies, kon ek nie wag om kombuis toe te hardloop nie. Die happies is ’n lekker bederf vir jou vriende, of ná ete met goeie brandewyn.

 

4. Nutella-kaaskoek

Hierdie resep het ek nog nie self getoets nie, maar as jy eers begin lees aan Life Love and Sugar gaan jy nie weet watter resep om te kies nie. Hierdie een is op my naweeklysie vir die komende Sondag se feestelike kuier.

 

5. Sjokolade-piesangtert

In my grootwordhuis het my ma gereeld vir ons nagereg gemaak met ’n kors van koekiekrummels en botter waarop sy dan karamelkondensmelk smeer en piesang snipper. Dit bly een van my gunstelinge, tot ek gesien het wat Bakerita op haar blog daarmee doen: sy gebruik sjokoladesmeer pleks van karamel en snipper ook piesang oor. Ek doen mos maar alles in oormaat en hier smeer ek steeds karamel bo-oor die sjokolade, want dan het jy die beste van albei!