sk08_2souffle02
Nagereg

Bessie-omeletsoufflé

(2 porsies)

  • 250 g vars of bevrore bessies
  • 15 ml strooisuiker
  • 3 eiers, geskei
  • 30 ml crème fraîche
  • 1 ml vanieljegeursel
  • 30 g (35 ml) strooisuiker
  • 1 eierwit
  • 12,5 ml botter
  • versiersuiker om bo-oor te sif

Meng die bessies met die 15 ml strooisuiker en verhit effens in ’n klein kastrolletjie, net tot die sap van die bessies uitkom. Hou eenkant. Klits die eiergele, crème fraîche, vanieljegeursel en die helfte van die 30 g strooisuiker saam. Klits die 4 eierwitte tot styf, en voeg die orige strooisuiker by. Vou die twee mengsels nou by mekaar in. Smelt die botter in ’n kleefvrye pan. Giet die omeletmengsel in die pan, en roer effens. Voeg die bessies by wanneer die omelet amper gaar is. Maak die pan met ’n deksel toe en laat nog sowat ’n minuut verder bak. Vou die omelet toe. Laat gly versigtig uit op ’n bord en sif versiersuiker bo-oor. Verhit ’n metaal-kebabstokkie tot baie warm – die maklikste is met ’n gasbrander – en plaas onmiddellik bo-op die versiersuiker sodat ’n kruispatroon op die omelet vorm. Sit dadelik voor met vars bessies van jou keuse.

 

Om te drink

’n Dekadente nagereg smag na ’n dekadente wyn. Probeer Blaauwklippen se Zinfandel Noble Late Harvest – dit spog met natuurlike bessiegeure. Salig.