Foto deur Micky Hoyle

SARIE KOS FEB/MAART 2013

Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS FEB/MAART 2013

Nagereg

Bevrore vanielje-en-kersie-jogurtroomys

Bevrore jogurt is een van my gunsteling-soort roomys. Dis gesonder as roomys wat van room gemaak word.
1 liter

  • 400 g vars kersies, ontpit
  • 30 ml strooisuiker
  • 1 liter vanieljejogurt
  • vars kersies vir voorsit

Sny kersies in stukkies en plaas in bakkie. Gooi strooisuiker oor en maak toe met kleefplastiek. Plaas in yskas en laat staan sowat 2 uur tot yskoud. ’n Stropie sal onderin die bak vorm. Voeg kersies met stroop en al by die jogurt. Meng goed deur. Plaas in ’n roomysmasjien en volg die instruksies. As jy nie so ’n masjien het nie, gooi die mengsel in ’n vlak metaalbak. Maak toe met kleefplastiek en plaas in vrieskas. Laat staan sowat 2 uur tot yskristalle begin vorm, haal uit en roer mengsel met ’n vurk. Maak weer toe met kleefplastiek en plaas terug in vrieskas. Laat verder vries en herhaal proses tot heeltemal gevries. Sit voor met vars kersies.

WENK
Jy kan die kersies met aarbeie of ander vrugte van jou keuse vervang. As jy nie vanieljejogurt kry nie, koop Griekse jogurt en voeg net ʼn klein bietjie vanieljegeursel of die sade van ʼn vanieljepeul by.