FOTO Micky Hoyle SARIE KOS JUNIE/JULIE 2013

Kosstories

Blitsvinnige nageregte

Nageregte en soetgoed hoef nie ure te neem nie. Nie eens ’n halfuur nie. Dié 7 resepte neem minder as 10 minute elk om te maak – en dit is net so lekker!

Liezl se resepte

S’more-stokkies

Dis ’n gunsteling langs die braaivleisvuur. Gesmelte malvalekkers en ’n blokkie sjokolade tussen twee beskuitjies. Maar dié resep lyk mooi en smaak heerlik – en jy maak dit sommer in die mikrogolfoond!

Smore-pops

Genoeg vir 4 stokkies

  • 8 Marie-beskuitjies
  • 4 sosatiestokkies
  • 100 g sjokolade
  • 4 malvalekkers

Plaas 4 koekies op ’n bord met ’n stokkie op elk. Plaas 1 blokkie sjokolade bo-op elke koekie en plaas in die mikrogolfoond vir 1 minuut. Plaas dan ’n malvalekker bo-op en verhit in die mikrogolfoond tot die lekkers begin uitpof – hou dit dop, want dit gebeur vinnig! Plak toe met nog ’n koekie.

Smelt orige sjokolade en versier die bokante van die koekies.

Stroopsoet perskes

Soet perskesGenoeg vir 4

  • 50 ml gouestroop of heuning
  • 50 ml water
  • 30 ml bruinsuiker
  • 4 perskes, gehalveer
  • 30 g gevlokte amandels, gerooster

Meng stroop, water en suiker in ’n pan en verhit tot mengsel begin kook. Plaas gehalveerde perskes gesnyde kant na onder in die pan.

Kook vir 2-3 minute tot effens sag terwyl jy stroop oor die perskes skep. Sit warm voor met gevlokte amandels.

Roomys-broodjies

roomys-broodjiesGenoeg vir 4 broodjies

  • 1 liter vanielje-roomys
  • 4 lemon cream-koekies

Verwyder roomys heel uit die roomysbak. Sny nou eweredige vierkante uit. Maak die koekies oop en plaas ’n roomys-vierkante bo-op elke koekie. Plak weer die koekie toe om roomys-broodjies te vorm.

Grondboontjiebotter-en-piesang-kaaskoek

Vinnige KaaskoekGenoeg vir 4 glasies

  • 50 g koekies, fyngedruk
  • 25 g botter, gesmelt
  • 60 ml grondboontjiebotter
  • 150 g roomkaas
  • 80 g strooisuiker
  • 75 g kondensmelk
  • 150 g piesangs, fyngedruk
  • 100 ml room, styfgeklop

Meng koekies en botter en druk koekiemengsel vas onder in glasies. Smelt grondboontjiebotter tot loperig en giet eweredig oor koekies.

Plaas roomkaas, strooisuiker, kondensmelk en piesang in ’n mengbak en meng goed met ’n klitser of voedselverwerker. Vou nou room by die mengsel in en skep mengsel in glasies.

Wenk: Vervang grondboontjiebotter met karamel vir ’n banoffee-kaaskoek.

Uit SARIE se kos-argiewe

Kyk ook hier vir nóg blitsige resepte uit die SARIE-argiewe.

sarie_008Crème brûlée in 5 minute

sjokolade brroodGebraaide sjokoladebrood

1,2,3...kaaskoek1,2,3 … kaaskoek

Ek hoop jou suikertand-pyne word sommer vinnig gestil met hierdie smullekker resepte!

Klits-en-Klets Kok

Liezl

Klits-en-Klets Kok Volg my ook nou hier en kook saam

Twitter: @KlitsenKletsKok

Facebook: Klits en Klets Kok

Instagram: klitsenkletskok

Indien jy een van die Klits-en-klets-blogs gemis het, klik HIER.