Nagereg

Cassata-trifle

Smaaklike Kersboom trifle. Dit mag dalk lyk na baie werk maar glo my dis al die moeite werd. Jou gaste gaan nie kan ophou praat nie!

genoeg vir 6

• 2 x 280 g-madeirakoek
• 2 liter vanieljeroomys
• 200 g glanskersies
• 100 g pistasieneute
• 250 g cassata-mengsel (kyk by bakafdeling in supermark)
• 200 g (250 ml) suiker
• 100 ml water
• 3 eierwitte

Vorm ’n kegel uit karton van 1 x 1 m – dis waarin jy die roomysboom gaan vries. Voer vorm uit met foelie. Laat vorm regop staan in ’n plastiekbottel waarvan die nek afgesny is. Druk nog foelie rondom in tot dit stewig staan. Sny koek in dun skywe en voer vorm uit met koek. Roer roomys met houtlepel in groot bak tot sagte mengsel. Vou kersies, neute en cassata-mengsel by roomys in. Gooi in uitgevoerde vorm en plaas in vrieskas tot weer hard gevries. Meng suiker en water in pot en bring tot kookpunt. Laat kook 3 minute. Klits eierwitte in elektriese menger se bak tot sagte punte vorm en gooi warm suikerstroop geleidelik by tot meringue-mengsel blink en styf is. Haal bevrore roomys uit vorm en plaas op opdienbord. Skep meringue in spuitsak met ster-tuit en spuit roomysboom vol rosette. Brand bruin met kombuis-blaasvlam of sit net so voor.

*Jy kan dit ook in ‘n plat bak maak.