Foto deur Micky Hoyle

SARIE KOS DES 2012/JAN 2013

Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS DES 2012/JAN 2013

Nagereg

Chardonnay-pere

Tradisioneel word pere gewoonlik in rooiwyn gekook. As witwyn is ongehoute chardonnay die regte keuse, want dis ʼn lekker vrugtige wyn. Swaar hegoute chardonnay kan die smaak van die nagereg beïnvloed.
Kooktyd: 20 – 30 minute, na gelang van hoe groot die pere is

  • 6 pere
  • 1 bottel chardonnay-wyn
  • 110 g (140 ml) suiker
  • 2 kaneelstokke
  • 6 heel naeltjies
  • repe skil van 1 lemmetjie of suurlemoen
  • 50 g pistasieneute, fyngekap

Skil pere met groenteskiller, maar behou die stingel. Bring die wyn, suiker, kaneel, naeltjies en lemmetjie- of suurlemoenskil tot kookpunt in ’n groot kastrol. Roer so elke nou en dan tot die suiker opgelos is. Sit geskilde pere in kastrol en plaas ’n stuk papier direk op die pere. Die papier sal help om die pere onder die stroop te hou. Laat prut sowat 30 minute. Toets met dun pennetjie – die pere moenie te sag gekook word nie, maar as jy die pennetjie indruk, moet dit maklik ingaan. Haal pere versigtig uit met gaatjieslepel. Rol onmiddellik in fyngekapte neute en sit voor saam met kasjoeneuttertjies en mascarpone-kaas.

Wenk
Hou geskilde pere in ’n bak met water waarby jy sout gevoeg het. Die soutwater sal keer dat die pere bruin word.