Nagereg

Churro-bakkies met karamel

Ek het inspirasie vir dié resep op een van my gunsteling-YouTube-kanale, Tasty, gekry.

genoeg vir 6

• 250 ml water
• 30 ml bruinsuiker
• 80 ml botter
• 140 g (250 ml) koekmeel
• 4 eiers
• 1 x 385 g-blik karamelkondensmelk
• 100 ml melk
• sonneblomolie vir diepbraai
• kaneelsuiker om in te rol
• 1 liter roomys van jou keuse

Stap 1

Bring water, bruinsuiker en botter tot kookpunt in middelslagpot. Voeg al die meel op een slag by.

Stap 2

Roer mengsel op warm plaat met draadklitser tot alles in een bal saamkom en wegtrek van die kante van die pot, sowat 2 – 3 minute.

Stap 3

Laat mengsel afkoel tot louwarm en voeg eiers een vir een by. Roer elke keer goed.

Stap 4

Skep mengsel in spuitsak met 1 cm-skerprandtuit. Draai standaardgroot kolwyntjiepan met 12 holtes onderstebo en spuit goed met kleefwerende kossproei. Spuit ronde sirkelbakkies (sien foto) op die kolwyntjiepan se buitekant. Plaas in vrieskas tot gevries.

Churro-bakkies met karamel

MAAK SÓ KLAAR
Plaas kondensmelk en melk in klein pot en roer oor hoë hitte tot gladde sous. Verhit olie vir diepbraai tot warm. Lig gevriesde deegbakkies van kolwyntjiepan af en plaas dadelik in warm olie. Braai 8 – 10 minute of tot goudbruin en bros. Dreineer op kombuispapier en rol in kaneelsuiker. Plaas op opdienbord en skep balle roomys in elkeen. Gooi karamelsous koud óf warm oor en sit voor.

FOTO Donna Lewis

FOTO Donna Lewis