Foto deur Micky Hoyle
SARIE KOS Augustus/September 2014

Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS Augustus/September 2014

Nagereg

Crème brûlée-doughnuts

Die geure van crème brûlée word in die vulsel van die doughnut gebruik – heerlik.

Genoeg vir 15
1 x 10 g-pakkie kitssuurdeeg
• 35 g (40 ml) strooisuiker
• 190 ml louwarm water
• 1 eier
• 5 ml sout
• 125 ml ingedampte melk
• 490 g (875 ml) koekmeel
• 30 ml gesmelte botter
• 750 ml sonneblomolie vir braai

Vulsel
• 250 ml room
• 250 ml melk
• 80 g (100 ml) suiker
• 6 eiergele
• 20 g (35 ml) koekmeel
• 5 ml vanieljepoeier

Karamel
• 100 g (125 ml) suiker
• 20 ml water

Gooi suurdeeg en suiker in ’n mengbak. Voeg water by en laat staan 10 minute. Klits eier, sout en ingedampte melk saam in ’n ander mengbak. Voeg eiermengsel by suurdeeg-mengsel en meng goed. Voeg helfte van meel by en meng goed. Voeg gesmelte botter by en meng deur. Voeg res van meel by en meng goed deur. Die deeg is taamlik klam. Plaas op meelbestrooide oppervlak en knie sowat 10 minute. Smeer ’n mengbak met bietjie olie en plaas deeg in bak. Maak toe met kleefplastiek en laat rys op ’n warm plek tot dubbel die volume (sommer in jou mikrogolfoond). Maak intussen die vulsel. Verhit room en melk saam tot net voor kookpunt in ’n kastrol. Klits suiker, eiergele, meel en vanielje saam tot lig. Voeg klein bietjie van warm roommengsel by eiermengsel en meng goed. Gooi nou die eiermengsel by res van roommengsel in die kastrol. Plaas terug op stoofplaat oor lae hitte. Roer deurentyd om te keer dat die eier gaar word. Bly roer tot mengsel lekker dik vla word. Haal af van hitte en gooi vla uit in ’n skoon mengbak. Laat afkoel en plaas in yskas tot benodig. Wanneer die deeg tot dubbel sy volume gerys het, keer dit uit op meel-bestrooide oppervlak. Gooi nog meel op deeg voor jy dit uitrol. Knie deeg af en rol dan uit tot so 1 cm dik. Gebruik ’n koekiedrukker van sowat 6 cm in deursnee en druk sirkels uit. Verhit die sonneblomolie in ’n kastrol. Toets eers die olie met ’n stukkie afvaldeeg – dit moet stadig bruin braai. As die olie te warm is, sal die doughnut buite baie gou bruin braai terwyl dit nog rou is binne. Braai die doughnuts (nie almal op een slag nie) tot mooi goudbruin en dreineer op kombuispapier. Laat doughnuts heeltemal afkoel. Plaas suiker en water in ’n diep pan om karamel te maak. Sit pan op matige hitte op stoofplaat en moet glad nie roer nie. Laat suiker smelt en kook tot karamel vorm. Doop die bokant van elke doughnut in die karamel. Maak ’n klein snytjie aan die kant. Vul ’n spuitsak met vulsel en spuit vulsel in elke doughnut.