Nagereg

Crêpes Suzette

(4 porsies)

Pannekoeke

  • 250 g koekmeel
  • knippie sout
  • 5 ml suiker
  • 2 eiers, effens geklits
  • 400 ml melk
  • 100 ml water
  • 15 ml botter, gesmelt
  • 30 ml gerasperde lemoenskil
  • 15 ml gerasperde suurlemoenskil
  • so 50 ml gesmelte botter om die pannekoeke in te bak

Sif die meel, sout en suiker saam. Klits die eiers, melk en water goed saam. Voeg die melkmengsel by die droë bestanddele. Klits goed – die beste is om ‘n elektriese menger te gebruik om seker te maak daar is geen klonte nie. Voeg die gesmelte botter by en meng goed. Maak die mengsel toe met ’n lap en laat staan vir minstens 20 minute. Voeg die lemoenskil en suurlemoenskil by en meng goed. Terwyl die beslag rus, maak jy die sous.

Lemoensous

  • 125 g strooisuiker ® 250 ml lemoensap
  • skil van 1 lemoen, in dun repies gesny
  • 60 ml brandewyn
  • 50 g botter, in klein blokkies gesny

Smelt die strooisuiker in ‘n pan. Kook tot karamel. Voeg die lemoensap by. Die karamel sal weer hard word wanneer jy die lemoensap byvoeg, maar hou net aan roer tot dit weer smelt. Voeg die lemoenskil by. Wanneer alles goed gemeng is, prut stadig vir so 3 minute. Hou eenkant terwyl jy die pannekoeke bak. Smeer ‘n nie-kleefpan met ‘n bietjie van die gesmelte botter en verhit die pan. Gooi van die pannekoekbeslag in die pan sodat die bodem net bedek is. Braai vir so 2 minute een kant en draai dan die pannekoek versigtig om. Braai aan die ander kant vir nog 2 minute. Wanneer die pannekoek gaar is, vou dit in die helfte en dan weer in die helfte sodat dit ‘n driehoek vorm. Hou eenkant terwyl jy al die pannekoeke braai. Maak weer die karamelsous warm en pak die pannekoeke in die pan met die sous. Wanneer als lekker warm is, voeg die brandewyn by en steek aan die brand. Voeg die botter by en skud die pan tot dit alles gesmelt is. Sit dadelik voor, net so of met vanieljeroomys.

 

Om te drink
Koelenhof se hanepoot met heerlike sitrusgeure en ’n ferm suurbalans.