Foto deur Lee Malan SARIE KOS APRIL/MEI 2013

Laktosvry

Donkersjokolade en granaat ryspoeding

Basiese vanieljeryspoeding
(genoeg vir 4)
gaarmaaktyd: 15 – 20 minute

  • 215 g (250 ml) arborio-rys
  • 2 x 400 ml-blikke klappermelk
  • 200 ml water
  • 50 g (60 ml) strooisuiker
  • 50 g (60 ml) sagte bruinsuiker
  • 1 vanieljepeul, oopgesny en saadjies uitgekrap, of 10 ml vanieljegeursel

Plaas al die bestanddele saam in ’n middelslag-pot. Bring tot kookpunt oor medium hitte terwyl jy aanhoudend roer met ’n houtlepel. Verlaag hitte tot stadige prut en kook mengsel sowat 15 – 20 minute of tot rys sag en romerig is. Roer elke 3 minute. Verwyder van hitte en volg verder een van die volgende variasies.

Donkersjokolade en granaat ryspoeding
Die bitter smaak van die sjokolade werk perfek saam met die soet van die granaat. Onthou om donkersjokolade te gebruik wat geen suiwelbyvoegings bevat nie.
(genoeg vir 4)
gaarmaaktyd: 5 minute

  • 1 x basiese ryspoeding (sien resep BO)
  • 1 x 100 g-plak goeiegehaltedonkersjokolade, fyngekap
  • 150 g granaatpitte

Sodra basiese ryspoeding gaar is, verwyder van hitte en gooi gekapte sjokolade by. Roer tot dit gesmelt is en ’n sagte romerige mengsel vorm. Gooi helfte van granaatpitte by en roer deur. Skep in 4 bakkies en sprinkel res van pitte oor. Sit voor.