sarie_002699
Nagereg

Framboos-en-witsjokolade-semifreddo

(sowat 2 liter)

  • 350 g bevrore frambose
  • 15 ml suiker
  • 3 eiers
  • 2 eiergele
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 220 g (260 ml) strooisuiker
  • 500 ml room
  • 200 g witsjokolade

Voer ‘n broodpan van sowat 12 x 28 cm met kleefplastiek uit. (Jy kan enige 2 liter-bak wat in jou vrieskas kan gaan, gebruik.) Kap helfte van bevrore frambose en die suiker fyn in voedselverwerker. Hou eenkant. Plaas orige frambose in vrieskas en hou vir versiering. Plaas eiers, eiergele, geursel en strooisuiker in ‘n bak wat oor ‘n kastrol met kookwater pas. Klits mengsel (verkieslik met elektriese handklitser) in bak oor kookwater tot dik en lig van kleur. Haal bak van kastrol af en laat effens afkoel. Klop room styf en vou in eiermengsel in. Smelt witsjokolade oor kookwater. Vou gesmelte sjokolade in. Gooi lang stroke framboos onderin broodpan. Gooi van die mengsel bo-op en dan weer stroke framboos. Vul pan met res van semifreddomengsel. Maak toe met kleefplastiek en plaas vir minstens 6 uur in vrieskas, verkieslik oornag. Keer uit op opdienbord. Trek kleefplastiek af en sit voor met bevrore frambose.