Foto deur Lee Malan SARIE KOS APRIL/MEI 2013

Laktosvry

Frambooskonfyt ryspoeding

Basiese vanieljeryspoeding
(genoeg vir 4)
gaarmaaktyd: 15 – 20 minute

  • 215 g (250 ml) arborio-rys
  • 2 x 400 ml-blikke klappermelk
  • 200 ml water
  • 50 g (60 ml) strooisuiker
  • 50 g (60 ml) sagte bruinsuiker
  • 1 vanieljepeul, oopgesny en saadjies uitgekrap, of 10 ml vanieljegeursel

Plaas al die bestanddele saam in ’n middelslag-pot. Bring tot kookpunt oor medium hitte terwyl jy aanhoudend roer met ’n houtlepel. Verlaag hitte tot stadige prut en kook mengsel sowat 15 – 20 minute of tot rys sag en romerig is. Roer elke 3 minute. Verwyder van hitte en volg verder een van die volgende variasies.

Frambooskonfyt
Konfyt kook is baie maklik en niks kom naby tuisgemaakte konfyt nie.
(genoeg vir 4)
gaarmaaktyd: 20 minute

  • 250 g frambose (vars of bevrore)
  • 250 g (315 ml) suiker
  • 30 ml water
  • 1 x basiese ryspoeding (sien resep BO)

Plaas frambose, suiker en water in ’n middelslag-pot. Roer deur. Bring tot kookpunt en verlaag hitte. Laat prut 15 – 20 minute of tot vrugte fyn is en ’n dikkerige konfyt vorm. Laat afkoel – as dit dan te dik is, kan jy ’n bietjie kookwater byroer. Skep lepel vol konfyt in ’n nageregglas en skep warm ryspoeding bo-op. Sit voor.