Foto deur Lee Malan

Nagereg

Geelperskes met sabayon en amandels

(6 porsies)

  • 200 g (250 ml) suiker
  • 500 ml water
  • 1 vanieljepeul, saadjies uitgekrap
  • 12 geelperskes, ongeskil
  • 4 eiergele
  • 125 ml muskadel
  • 50 g strooisuiker
  • 100 g gevlokte amandels

Plaas suiker en water in ’n middelslag-pot en bring tot kookpunt. Voeg vanieljesaadjies by. Sit geelperskes in warm suikerstroop. Verlaag hitte en laat stadig prut tot geelperskes sag is, maar nie pap nie. Laat afkoel tot yskoud in stroop. Kook water in ’n pot waarop ’n glasbak stewig kan pas, maar waarvan die bodem nie aan die water raak nie. Sit eiergele, muskadel en strooisuiker in die glasbak. Plaas op pot en verlaag hitte tot net onder kookpunt. Gebruik elektriese handklitser en klits mengsel vir 5 minute by hoë spoed tot lig en skuimerig. Verwyder bak van hitte en hou aan klits tot mengsel koud is. Plaas geelperskes in opdienbak en skep skuimsous oor. Sprinkel amandels oor en sit voor.

Wenk
Dis belangrik dat die water in die pot nie kook terwyl jy klits nie – die vlamengsel in die bak sal te warm raak en skif.