FOTO Donna Lewis

Nagereg

Gesonder grenadella-yskastert

Resep lewer: 12 skywe

porsie grootte: 1 skyf

• 1 x gebakte basis soos beskryf by grenadella-yskastert of gebruik tertdeeg met olie
• 5 ml gelatien
• 15 ml water
• 250 ml laervet-room
• 200 ml ongegeurde laevet-jogurt
• 100 ml grenadellagegeurde laevet-jogurt
• 3 x 100 g-Cadbury Dream-witsjokolade, in blokkies gebreek
• 115 g grenadella-pulp
• 1 groot eierwit, styfgeklits
• pulp van 4 grenadellas (sowat 4 grenadellas)

Week gelatien in water. Plaas room en jogurt in ’n dikboomkastrol en meng tot glad. Voeg sjokoladeblokkies by en verhit tot kookpunt terwyl jy die mengsel heeltyd roer. Roer geweekte gelatien by warm mengsel tot opgelos, en dan die grenadella-pulp. Vou van die warmmengsel by eierwit in en vou dan terug by warm mengsel in kastrol. Gooi vulsel in afgekoelde kors en verkoel vir sowat 2 uur tot gestol. Sit voor met grenadella-pulp.

Tertdeeg met olie

• 50 g (60 ml) laevet-margarien
• 25 ml sonneblom- of neutolie
• 30 ml strooisuiker
• 1 groot eiergeel
• 225-250 ml koekmeel
• 1,25 ml bakpoeier

Verhit oond tot 190 ˚C. Room margarien en olie tot glad. Meng strooisuiker, dan eiergeel met geroomde mengsel. Sif koekmeel en bakpoeier saam en roer by geroomde mengsel. Knie laaste meel in om ’n sagte, rolbare deeg te vorm. Rol deeg dun uit tussen 2 lae kleefplastiek. Verwyder boonste kleefplastiek en keer deeg in ’n tertbord van 23 cm in deursnee om, met onderste kleefplastiek nou bo. Skuif deeg reg met behulp van kleefplastiek en verwyder. Druk deeg in tertbord vas en maak rand netjies. Die deeg krimp ’n bietjie, daarom kan dit ’n entjie bokant die bord se rand uitsteek. Prik kors liggies met ’n vurk. (Jy hoef nie die tertdop met bone te vul nie.) Bak vir 15-20 minute tot strooikleurig en bros. Laat afkoel voordat jy die vulsel ingooi.