Foto's deur Donna Lewis

Foto's deur Donna Lewis

Nagereg

Grenadella-yskastert

(10 – 12 porsies)

  • 280 g (500 ml) koekmeel
  • 155 g botter
  • 30 ml strooisuiker
  • 30 ml water
  • 250 ml laevet-room
  • 250 g suurroom (crème fraîche)
  • 4 x 100 g-blokke witsjokolade, grofgekap
  • 115 g grenadella-pulp
  • pulp van nog 4 grenadellas

Verhit oond tot 180 ˚C. Sit meel, botter en suiker in voedselverwerker. Verwerk tot die tekstuur van growwe broodkrummels. Gooi water by en verwerk tot deeg bymekaar kom. Draai toe in kleefplastiek en sit in yskas vir 20 minute. Rol koue deeg uit op ‘n meelbestrooide oppervlak tot 3 mm dik. Spuit ‘n 30 X 15 cm-broodpan met kleefwerende sproei. Sny lang stroke bakpapier en sit in die lengte in broodpan – dit moet bo die rand van die pan uitkom. Voer pan met uitgerolde deeg uit. Sit in yskas en laat rus tot yskoud. Sny nog ‘n stuk bakpapier en spuit met kleefwerende sproei. Sit binne-in uitgevoerde pan met gespuite kant direk op deeg. Vul tot bo met rou rys of bone. Plaas in warm oond en bak vir 10 minute. Verwyder bakpapier versigtig met rys binne-in. Sit kors terug in oond vir 5 minute of tot goudbruin. Laat afkoel. Meng room en crème fraîche tot ‘n gladde mengsel. Sit in ‘n mediumgroot pot en bring tot kookpunt. Voeg gekapte sjokolade by en roer tot gladde mengsel. Roer grenadella-pulp by. Gooi in afgekoelde kors en sit in yskas om te stol (sowat 1 uur). Lig tert versigtig uit pan met bakpapier wat oorhang. Trek onder tert uit en skep pulp van 4 grenadellas oor.