FOTO: Donna Lewis

FOTO: Donna Lewis

Glutenvry

Grondboontjiebotter-doughnuts

Maak jou eie doughnuts. Dis eintlik baie maklik.
Genoeg vir 10 – 12

  • 125 ml room
  • 250 ml gladde grondboontjiebotter
  • 30 ml louwarm water
  • 125 ml louwarm melk
  • 30 ml strooisuiker
  • 20 ml heuning
  • 80 g (85 ml) botter, gesmelt
  • 2 eiers
  • 1 x 10 g-sakkie kitsgis
  • 300 g (580 ml) glutenvrye meel
  • 10 ml karamelgeursel
  • sonneblomolie vir diepbraai
  • kaneelsuiker

Bring room en grondboontjiebotter tot kookpunt. Roer tot gladde sous vorm en hou eenkant. Plaas water, melk, suiker, heuning, botter en eiers in elektriese menger se bak. Voeg gis, meel en geursel by. Meng vir so 10 – 12 minute by hoë spoed met die meng-spaan (K-beater) tot hele mengsel in ’n sagte, klewerige deegbal saamkom. Plaas deeg in skoon bak wat met olie gesmeer is en maak toe met kleefplastiek. Laat rys op ’n warm plek tot dubbel in volume, so 30 – 45 minute. Verhit sonneblomolie in groot pot tot medium- warm. Sprinkel dun laag koekmeel op werkoppervlak en keer uitgerysde deeg daarop uit. Druk plat tot sowat 1 cm dik. Druk nou sirkels uit met ronde koekiedrukker met deursnee van 12 cm. Gebruik kleiner 2 cm-drukker en druk gaatjie in elke deegsirkel. Diepbraai in olie vir sowat 3 minute per kant of tot goudbruin. Dreineer op kombuispapier en rol in kaneelsuiker. Sit voor met grondboontjiesous.