sk07sjoksjef04
Nagereg

Nagereg met gekaramelliseerde pynappel, sjokoladevla en klapperjellie

(4 porsies)

  • 1 pynappel
  • 1 vanieljepeul
  • 100 g ligte bruinsuiker
  • 1 steranys

Skil die pynappel en sny in klein blokkies. Sny die vanieljepeul oop en krap die sade met ‘n mespunt uit. Meng die pynappelblokkies met die vanielje. Plaas al die bestanddele in ‘n kastrol en verhit oor ‘n lae hitte. Kook tot die mengsel gekaramelliseer is. Skep die gekaramelliseerde pynappel in poedingglase en laat afkoel.

Sjokoladevla

  • 165 ml room
  • 420 ml melk
  • 150 g donkersjokolade (Lindt Swiss Classic Dark)
  • 90 g eiergele
  • 75 g suiker

Verhit die room en melk tot kookpunt en verwyder van die hitte. Kap die sjokolade fyn en voeg by die roommengsel. Roer tot glad. Klits die eiergele en suiker saam tot lig en romerig. Gooi die warm sjokolademengsel bo-oor die eiergele en klits deurentyd tot ‘n gladde mengsel. Plaas vir 1 minuut terug op die hitte en roer deurentyd. Verwyder van die hitte en laat effens afkoel. Giet die vla oor die pynappel in die glase en laat in die yskas stol.

Klapperjellie

  • 290 ml melk
  • 75 g fyn klapper
  • 25 g suiker
  • 165 ml klapperroom
  • 30 ml gelatien

Kook al die bestanddele, behalwe die gelatien, saam in ‘n kastrol. Sprinkel die gelatien op ‘n bietjie koue water en laat toe om uit te swel voor jy dit by die warm mengsel voeg om op te los. Gooi die mengsel bo-op die sjokoladevla en laat afkoel. Versier met sjokoladekrulle.