Foto deur Micky Hoyle

Nagereg

Napolitaanse semifreddo’s

(20 stafies – elk so 9 x 3 cm groot)

Die verrassing
Die nagereg lyk soos sjokoladestafies, maar byt dit oop en ontdek die semifreddo in die middel. Jy sal ook nie weet of jy ‘n aarbei-, sjokolade- of vanielje-roomys het voor jy dit eet nie.

Vanielje-semifreddo

  • 3 x 100 g elk 70%-donkersjokolade
  • 1 vanielje-peul
  • 3 eiers
  • 2 eiergele
  • 220 g (260 ml) strooisuiker
  • 500 ml room

Breek die sjokolade in stukke en plaas in ‘n glasbak wat oor ‘n kastrol sal pas. Bring water in kastrol tot kookpunt en haal af van hitte. Plaas bak met sjokolade op kastrol en laat smelt. Roer nou en dan. Smeer van die gesmelte sjokolade in jou vorm. Laat hard word in yskas. Herhaal tot elke holte van vorm drie lae sjokolade het. Hou in yskas terwyl jy die semifreddo maak. Skraap die sade uit die vanielje-peul. Plaas die eiers, eiergele, vanielje-sade en suiker in ’n bak wat sal pas oor ’n kastrol met kookwater. Klits die mengsel (verkieslik met ’n elektriese handklitser) tot dik en lig van kleur. Haal bak af van kastrol en laat effens afkoel. Klits room styf en vou in die eiermengsel in. Verdeel mengsel in drie. Hou een vanielje en voeg nou die volgende by vir ander geure.

Aarbei-semifreddo

  • 400 g aarbeie, skoongemaak
  • 30 ml strooisuiker

Sit aarbeie in voedselverwerker en verpulp. Voeg suiker by en meng. Voeg by een van die vanielje mengsels.

Sjokolade-semifreddo

  • 100 g 70%-sjokolade

Breek sjokolade in stukke. Sit in ‘n glasbak wat oor ‘n kastrol pas. Bring water in kastrol tot kookpunt en haal af van hitte. Sit bak met sjokolade op kastrol en laat sjokolade smelt. Voeg by die laaste vanielje-mengsel. Verdeel die drie vulsels tussen die holtes in die vorms. Die sjokolade waarmee die holtes vroeër uitgevoer is, sal nou al weer hard geword het. Skep die vulsel tot bo in elke holte en maak mooi gelyk. Plaas in vrieskas. Vries tot die semifreddo’s heeltemal hard is. Verf ‘n lekker dik laag gesmelte sjokolade bo-op die gevriesde semifreddo’s – hulle moet heeltemal met sjokolade bedek wees. Plaas terug in vrieskas tot hard. Hou in die vrieskas en dop uit net voor jy dit voorsit.