Foto deur Lee Malan

Nagereg

Oeufs à la neige (floating islands)

(6 porsies)

  • 5 ml vanieljegeursel
  • 4 eiergele
  • 125 ml suiker
  • 400 ml melk

Meringue

  • 4 eierwitte
  • 125 ml strooisuiker
  • 45 ml mielieblom
  • 24 vars babavye, of vrug van jou keuse

Verhit oond tot 160 °C.

Plaas vanielje, eiergele en suiker in ’n middelslag-mengbak en klits tot gemeng. Bring melk tot kookpunt oor mediumhitte. Gooi warm melk oor eiermengsel terwyl jy klits. Gooi eiermengsel terug in pot en plaas oor lae hitte. Hou aan roer tot ’n lagie van die mengsel op die agterkant van ’n houtlepel agterbly. Gooi vla deur ’n sif. Plaas in yskas tot koud.

Meringue

Klits eierwitte in middelslag-mengbak tot sagte punte vorm. Gooi strooisuiker geleidelik by en hou aan klits tot blink en styf. Voeg mielieblom by en klits tot gemeng. Spuit 12 holtes van ’n silikoon-muffinpan met kleefwerende kossproei. Vul tot gelyk bo met meringue. Plaas in bakpan en vul dan bakpan tot ’n derde met kookwater. Bak 15 minute of tot goudbruin bo-op. Laat afkoel in muffinpan. Keer versigtig uit. Verdeel koue vla tussen opdienborde. Plaas koue meringue boop saam met vars vye. Sit voor.

Klits perfeK vir meringue

  • Gebruik altyd ’n metaal- of glasbak wat droog en skoon is. Plastiekbakke is soms vetterig, wat voorkom dat eierwitte lekker skuim.
  • Eiers by kamertemperatuur maak ’n beter meringue as dié wat in die yskas was.
  • As jy eiers vir meringue skei, is dit belangrik dat daar geen eiergeel in die wit is nie. Eiergeel bevat vet, wat gaan keer dat die wit skuim.
  • As daar wel eiergeel in die wit beland, gebruik ’n halwe eierdop om dit uit te skep. Die skerp rand van die dop werk beter as ’n lepel.
  • Klits eiers tot dit sagte punte vorm voor jy suiker byvoeg. Voeg suiker dan bietjie vir bietjie tydens die verdere klitsproses by om seker te maak jou meringue is lekker blink en styf.