Nagereg

Pannacotta met suurlemoensmeer

(4 porsies)

  • 10 g gelatien
  • 30 ml melk
  • 250 ml room
  • 250 g crème fraîche
  • 30 ml strooisuiker
  • 1 vanieljepeul

Week die gelatien vir vyf minute in ’n bakkie met die melk. Plaas die bakkie bo-op ’n bak met kookwater en laat die gelatienmengsel smelt. Klits die room, crème fraîche en strooisuiker saam in ’n kastrol. Skraap die sade uit die vanieljepeul en voeg hulle by die mengsel. Verhit tot net by kookpunt, maar moet dit nie laat kook nie. Haal van die hitte af en voeg die gesmelte gelatien by. Gooi die mengsel deur ’n sif en laat afkoel. Giet in glase, plaas in die yskas en laat stol. Dit sal so 3 – 4 ure neem. Maak intussen die suurlemoensmeer.

Wenk
As jy nie ’n vanieljepeul in die hande kan kry nie, vervang dit met 2 ml vanieljegeursel.

Suurlemoensmeer

  • 100 ml suurlemoensap
  • 30 ml gerasperde suurlemoenskil
  • 65 g (80 ml) suiker
  • 3 eiers
  • 90 g (90 ml) ongesoute botter, in blokkies gesny

Klits die suurlemoensap, -skil, suiker en eiers saam in ’n kastrol. Verhit terwyl jy roer en voeg die botter by. Kook vir net ses minute, of tot die eerste borrels begin wys. Gooi uit in ’n bak en plaas kleefplastiek direk op die smeer om te keer dat ’n vel vorm. Laat afkoel en skep bo-oor die pannacotta. Versier met vars suurlemoenblare.